Tien babas is op Kersdag en Nuwejaarsdag by die Stellenbosch-hospitaal gebore en is deel van die 484 nuwelinge wat hul opkoms by hospitale die provinsie heen op hierdie twee spesiale dae gemaak het.

Die ouers van vyf babas – twee seuntjies en drie meisietjies – het ekstra spesiale geskenke ontvang toe hul kroos op Kersdag by die Stellenbosch-hospitaal gebore is. Hierdie vreugde is gevolg deur die aankoms van vyf engeltjies – ook twee seuntjies en drie meisietjies – by dieselfde fasiliteit op Nuwejaarsdag.

Die provinsiale departement van gesondheid en welstand het die ouers in ’n verklaring gelukgewens met die veilige geboorte van al die nuwe babas en gesê die departement sien daarna uit om deel van die kleintjies se ontwikkelingsreis te wees.

“Met 1 Januarie wat die begin van ’n nuwe jaar aandui, is ons as die departement werklik geseënd om met die geboorte van hierdie kleingoed toevertrou te word,” het dr. Nomafrench Mbombo, die provinsiale minister van gesondheid, gesê.

“Namate die ouers hierdie nuwe hoofstuk van hul lewe begin, moedig ons hulle aan om kennis te neem van die belangrikheid en uitwerking wat die eerste 1 000 dae op ’n kind se lewe het. Ons smeek dat kinders in die volgende paar jaar voedsame kos kry, dat hulle op datum gehou word met hul inentings, en dat hulle ’n gesonde en veilige leefomgewing geniet.”

You need to be Logged In to leave a comment.