Tien uit tien vir PRG-oudleerder

“Waardeer en respekteer jou onderwysers.”.


“Waardeer en respekteer jou onderwysers.”

Dít is die raad wat ’n oudleerder van Paul Roos Gimnasium aan huidige matrikulante wil gee.

Alex Aldrich, wat verlede jaar matriek geskryf het, het onlangs uitgevind dat hy tien onderskeidings in tien vakke behaal het nadat hy van sy vakke oor laat merk het. Hy het onder meer 96% in wiskunde en fisiese wetenskappe behaal.

“As onderwysers begin klasgee, bly stil, luister en leer. Die skryf van jou matriekeindeksamen is ’n gulde geleentheid om jou skoolloopbaan op ’n hoë noot af te sluit. Vir jouself en vir jou onderwysers.”

Aldrich stel ook voor dat matrikulante vroeg in die jaar vir hulself akademiese doelwitte stel en dat hulle konsekwent en getrou moet werk. “Jy hoef nie al die partytjies by te woon nie – daardie tyd sal nog kom, glo my.”

Hy is dankbaar vir die onderwysers wat hom deur sy matriekjaar geneem het. “Mnr. Willem de Villiers, me. Du Plessis, mnr. Badenhorst, mnr. Van Rensburg en ons rektor mnr. Van Staden wat altyd tyd maak vir almal.”

Aldrich is nie verbaas dat hy tien onderskeidings behaal het nie, want dis ’n doelwit wat hy vir homself gestel het. “Ek voel meer verlig as enigiets anders. Ek het geweet wat die doelwit behels en wat ek moet doen om dit te behaal. Wanneer ek vrae oor die werk gehad het, was my onderwy­sers altyd behulpsaam en beskikbaar. Ek dink nie te veel aan die prestasie nie – ek kyk nou watter volgende en groter doelwitte daar is om te bereik, want intellektuele dormansie is tydmors.”

Net omdat hy vir homself ’n doelwit gestel het om tien onderskeidings te behaal, beteken nie hy het sy ander belange prysgegee nie. Hy het ’n projek, Matrick Music Concert, van stapel gestuur waar matriekmusikante van sewe verskillende skole opgetree het. Aldrich moes elke individuele musikant organiseer, die klanktoetse doen, kaartjies ontwerp en verkoop.

Voorts het hy en twee spanmaats aan die nasionale eindronde van die onvoorbereide redenaarskompetisie, Dink of Sink, in Pretoria deelgeneem twee dae voor hy Engels moes skryf en ’n week voor chemie. “Ek het die Vrydagoggend gevorderde wiskunde geskryf en het dieselfde dag gevlieg om die Saterdag deel te neem aan die kompetisie. Ek onthou nou nog hoe ek die verskil tussen ’n alkeen en ’n alkyn op die lughawe geleer het terwyl ek vir my vlug gewag het.

Hy sê Paul Roos Gimnasium se span het die kompetisie gewen met goeie afrigting en met behulp van oom Marius van Zyl. Daar was ook talle komitees se projekte, SR-verpligtinge, debat en koorkompetisies en sportdae wat hy moes bywoon en wat ook baie tyd geneem het.

“Ek moet egter sê dat ek nie vir een oomblik spyt is dat ek al hierdie geleenthede benut het nie – nie almal het die voorreg om aan so baie dinge deel te neem nie en as jy wel in die bevoorregte posisie is, gryp dit aan!”

Aldrich studeer tans medies aan die Universiteit Stellenbosch.

“Dit was nog altyd ’n klip in my skoen dat mense wat fisiek gestremd is of mense wat ledemate verloor het, nie gehelp kan word nie omdat ons nog nie oor die nodige kennis van senuweeselle beskik nie. Ek studeer dus medies om uiteindelik uit te vind hoe jy party mense weer kan laat loop, sien, hoor of selfs hul arms of bene terug te gee deur om te spesialiseer in die werking van die senuweestelsel. Daar is genoeg ellende in die wêreld wat ons nie kan voorkom nie – hierdie is wel iets wat ek glo opgelos kan word.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.