Die skielike dood van ’n tienerseun van Klapmuts laat ’n groot leemte in sy gesin en skoolgemeenskap.

Ugen Williams, ’n gr. 11-leerder aan die Hoërskool Noorder Paarl, is vroeër die maand oorlede nadat ’n aar in sy brein gebars het, vertel sy pa, Jesreel Johannes.

Hy beskryf sy seun se dood as skokkend en hartverskeurend.

“Hy was nooit siek nie. Hy was fris en gesond. Hy en vriende was verlede Saterdagmiddag by die huis toe hy skielik begin sleg voel het. ’n Vriend van hom het ons gebel en gesê Ugen voel nie lekker nie en ons het huis toe gejaag. Met ons aankoms by die huis het ons hom op sy bed aangetref, en hy het baie gebraak ook.

“Ons het hom Stellenbosch-hospitaal toe geneem, waarna Ugen na die Tygerberg-hospitaal oorgeplaas is. Hy het ’n beroerte by die huis gekry. As gevolg van die beroerte het ’n aar in sy kop gebars en dit het bloeding op die brein veroorsaak.

“By Tygerberg het dokters hom opereer om van die bloed op sy brein ontslae te raak. Hy het daarna in ’n koma gegaan en hy nooit weer wakker geword nie. Die chirurge sê hulle kan ook nie verstaan dat so ’n jong seun van sy ouderdom ’n beroerte gekry het nie.”

Volgens Johannes was die beroerte so erg dat dit groot breinskade veroorsaak het. Dokters het aan die gesin gesê Ugen sal nooit weer dieselfde wees nie, want die breinskade was te groot. Hy het dit egter nie oorleef nie.

Al wat die Johannes-gesin van hul kind oor het, is die mooie herinneringe.

Johannes sê Ugen se dood is baie swaar vir sy ma, Monique, en jonger suster, Jessnique.

“Hy was ’n lekker mens om rondom jou te hê. Hy was een wat geluister het as jy met hom gepraat het en hy was lief om my en sy ma uit te tart, maar hy sal altyd daai liefdevolle persoon in my hart bly. Hy was ook baie lief vir musiek en dans. Hy wou ’n akteur geword het.”

Ugen se begrafnisdiens het Saterdag (15 Junie) by die Nuwe Apostoliese kerk in Klapmuts plaasgevind.

Ugen is daarna in Franschhoek ter ruste gelê.

You need to be Logged In to leave a comment.