Leerders aan die Hoër Meisieskool Bloemhof sal vanjaar weer in die nasionale eindronde van die ATKV-tienertoneel te sien wees.
Die leerders sal nie net op die verhoog wees nie, maar ook in die regisseurstoel. Die graad 11-leerders, Nichola Viviers en Ané Conradie, het besluit om die projek vanjaar te lei en het die produksie Uhm . . . op die planke gebring. Nichola is self as aktrise te sien terwyl Ané deel van die tegniese span vorm. Die nasionale eindronde vind vanjaar in die Adam Small-teaterkompleks plaas en die beste 18 stukke van oor die land heen sal van 18 tot 23 September te sien wees.