’n Ma van Stellenbosch het gister (Woensdag 14 Februarie) in die Stellenbosch-landdroshof op ’n klagte van poging tot moord op haar tweejarige kind verskyn.
Volgens kapt. Nathalie Martin, ’n woordvoerder van die Stellenbosch-polisie, is die 17-jarige ma Maandag (12 Januarie) in hegtenis geneem.
Die seuntjie ontvang steeds behandeling in die Stellenbosch-hospitaal.
“Die Stellenbosch-polisie het Maandag om 15:15 inligting van ’n voorval op ’n plaas op die Annandale-pad ontvang. Die klaer het verduidelik dat ’n ma vermoedelik haar kind gesteek het en dat beide die ma en kind by die Stellenbosch-hospitaal is,” sê Martin.
Polisielede het hulle na die hospitaal gehaas en met hul aankoms het hulle die tweejarige seun, wat deur ’n dokter ondersoek is, aangetref.
“Die peuter het drie steekwonde aan sy lyf gehad – twee aan die bors en een aan die buik,” sê Martin.
“Volgens die inligting wat ontvang is, het die ma die kind self by die ingang van die hospitaal ingedra. Sy het ook glo beken dat sy die kind gesteek het.”
Die Stellenbosch-polisie het die tienerma dadelik in hegtenis geneem en sy was tot haar hofverskyning in aanhouding.
Die uitspraak van die eerste verskyning was teen druktyd nie bekend nie.
Die provinsiale gesondheids-departement kon teen druktyd nie op Eikestadnuus se navraag oor die seun se toestand reageer nie.
Martin het verder ouers, veral ma’s, wat depressie of stres ervaar, gemaan om hulp te soek. “Daar is hulp. Gesels met iemand na aan jou – ’n familielid, vriend of kollega. Jy hoef nie alleen deur jou situasie te werk nie, veral nie as jy voel alles raak te veel nie. Daar is baie organisasies in Stellenbosch wat hulp teen geen koste aanbied.”
- Kontak Fabian Matthews van die Stellenbosch-eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe by 082 469 1479 met enige inligting oor die voorval.