Twee uit drie tieners by wie pulmonale tuberkulose (TB) gediagnoseer is, ervaar long-abnormaliteite selfs nadat hulle die behandeling vir hierdie siekte suksesvol voltooi het.

Hierdie onrusbarende bevinding is onthul in ’n nuwe studie deur navorsers van die Universiteit Stellenbosch (US), wat onlangs in die prominente mediese joernaal, The Lancet, se reeks eClinicalMedicine, gepubliseer is. Dit is die eerste studie wat longfunksie in tieners met TB omvattend tydens én na voltooiing van anti-TB-behandeling assesseer het.

“Daar is min kennis oor post-TB-longsiekte by tieners,” verduidelik dr. Marieke van der Zalm, die studieleier by die US se Desmond Tutu-TB-sentrum. “Ons data dui daarop dat ’n groot deel van tieners ná suksesvolle TB-behandeling verswakte longfunksie het. Strategieë is nodig om individue met ’n risiko vir asemhalingsmorbiditeit te identifiseer, asook intervensies om longgesondheid ná TB te verbeter.”

Elke jaar ontwikkel ’n geraamde 850 000 tieners en jong volwassenes tuberkulose, waarvan ongeveer 90% in lae- en middelinkomstelande woon. Adolessensie is ’n belangrike tydperk vir longgroei, en respiratoriese siektes soos TB kan moontlik met normale longontwikkeling inmeng. Tuberkulose tydens adolessensie kan dus ’n jong mens se vermoë om volle longpotensiaal te bereik, negatief beïnvloed.

“Met die kombinasie van die hoë TB-las, die ernstige aard van TB-siekte, sekere gedragsaspekte (insluitend rook) en die kritieke tydperk in longontwikkeling, kan adolessente meer TB-geassosieerde respiratoriese morbiditeit hê in vergelyking met volwassenes,” waarsku Van der Zalm. “Met ’n langer lewensverwagting ná TB in vergelyking met volwassenes, kan adolessente aansienlik bydra tot die algehele ongeskiktheidslas wat deur TB veroorsaak word.”

Die studie het 100 tieners tussen die ouderdomme van 10 en 19 jaar in Kaapstad ondersoek. Die studie het die longfunksie van 50 pasiënte by wie TB gediagnoseer is, vergelyk met dié van 50 gesonde tieners wat aan TB blootgestel is, maar nié die siekte ontwikkel het nie.

Die groep by wie TB gediagnoseer is, het ’n reeks longfunksietoetse (spirometrie, plethysmografie, diffusiekapasiteit-longfunksie en ’n ses-minuut-staptoets) uitgevoer twee maande nadat anti-TB-behandeling begin is, en weer ná die voltooiing van behandeling, gemiddeld ’n jaar later. Resultate van die eerste assessering (wat twee maande ná behandeling uitgevoer is) het abnormale longfunksie onder 76% van adolessente gevind, en 65% het steeds abnormale longfunksie getoon tydens die tweede assessering wat uitgevoer is ná suksesvolle voltooiing van behandeling.

“Die feit dat tieners met TB ná suksesvolle behandeling algehele laer longfunksie in vergelyking met hul eweknieë het, is kommerwekkend, want dit kan beteken dat hulle nie hul volle potensiaal as volwassenes sal kan bereik nie en hulle loop ? groter gevaar om vroegtydig kroniese longsiekte te ontwikkel. Studies het getoon dat selfs matige inkorting van longfunksie geassosieer word met verhoogde risiko van hart- en longprobleme later in die lewe, of selfs voortydige dood. Gevolglik toon ons data dat tieners wat TB gehad het, permanente langtermyn hart- en longprobleme kan ontwikkel,” waarsku Van der Zalm.

“Ons resultate toon dat tieners dringend ingesluit moet word by studies wat die voorkoming en behandeling van tuberkulose-geassosieerde respiratoriese morbiditeit ondersoek; dit sluit die behoefte in om longgesondheid as ’n uitkoms binne tuberkulosebehandelingsproewe by adolessente te assesseer.”

You need to be Logged In to leave a comment.