Ná ’n rekordgetal van 152 Suid-Afrikaanse sauvignon blanc-wyne in die onlangse Concours Mondial du Sauvignon meegeding het, kan produsente nou hul slag wys in die jaarlikse FNB Sauvignon Blanc SA Top-10-kompetisie.
Inskrywings is nou oop vir die kultivargroep Sauvignon Blanc SA se 17de weergawe van hierdie eksklusiewe kompetisie vir Suid-Afrika se topverkoper- en mees uitgevoerde variëteit, wat in 2022 ’n indrukwekkende 14,3 miljoen liter binnelands verkoop het en 67,7 miljoen liter uitgevoer het.
Die kompetisie se sukses is te danke aan vennootskappe met die titelvennoot FNB en die platinumvennoot EVER SA.
Produsente kan aanlyn by www.sauvignonblanc.com/top10-entry/ inskryf. Die sperdatum vir inskrywings is Dinsdag 15 Augustus 2023, met laat inskrywings wat tot Woensdag 23 Augustus 2023 aanvaar word.
’n Paneel vooraanstaande wynspesialiste, onder leiding van die Kaapse Wynmeester, dr. Winifred Bowman, sal die aanspraakmakers van Dinsdag 29 Augustus tot Donderdag 31 Augustus 2023 by Uitkyk-landgoed in Stellenbosch beoordeel. Saam met dr. Bowman op die paneel is wynbeoordelaar en -skrywer Fiona McDonald; Johann Fourie, hoofwynmaker van Benguela Cove; wynmaker Morgan Steyn van De Grendel; Greg Mutambe, hoof-sommelier by Rust en Vrede-restaurant asook twee protégé-beoordelaars. Twintig finaliste sal in September aangekondig word, terwyl die wenners in Oktober by die gesogte FNB Sauvignon Blanc SA Top-10-toekenningseremonie bekendgemaak sal word.
Suid-Afrika se Concours-prestasie stel nuwe standaarde
Sauvignon Blanc SA se voorsitter, RJ Botha, koester hoë verwagtinge van die 2023-kompetisie. “Ons wynmakers het besonder goed gevaar in die onlangse Concours Mondial du Sauvignon,” sê Botha. “Uit die 152 wyne wat deur Suid-Afrikaanse produsente ingeskryf is, is ’n derde met medaljes bekroon, naamlik 26 goue en 30 silwer medaljes. Die Villiera Bush Vine 2022 is met die Tonnellerie Sylvain-trofee vir die beste gehoute wyn vereer en Darling Cellars se Gustus Sauvignon Blanc 2020 het die Revelation South Africa-trofee gewen.”
Botha beklemtoon die wêreld se hoë agting vir Suid-Afrikaanse sauvignon blanc en sy merkwaardige diversiteit. “Die FNB Sauvignon Blanc SA Top-10 verteenwoordig elke jaar ‘n groot verskeidenheid in oorsprong en styl, met uiteenlopende geurprofiele,” verduidelik Botha. “Gehoute en ongehoute wyne presteer werklik goed. Dit is ook belangrik dat die oesjaar op die etiket nie ’n vervaldatum is nie – sauvignon blanc-entoesiaste kan dus gerus ouer oesjare ook ’n kans gee.”
Vir meer inligting, besoek www.sauvignonblanc.com of kontak Sauvignon Blanc SA by info@sauvignonblanc.com of 082 808 1114.