Francois Dercksen is die tweede jongste lid wat in die driegang-Protea-ruiterkuns-perdryspan opgeneem is. Dié span gaan in Julie aan die Wêreldbeker-toernooi deelneem.Foto:


Ná sy prestasie op 29 Januarie by die Suid-Afrikaanse Protea-ruiterkuns-perdryproewe is ’n graad 10-leerder aan Paul Roos Gimnasium (PRG), Francois Dercksen, die tweede jongste lid wat opgeneem is in die driegang-Protea-ruiterkuns-perdryspan, wat in Julie aan die Wêreldbeker-toernooi gaan deelneem.

Die toernooi vind tussen 25-30 Julie in Kentucky, VSA plaas.

“By die Wêreldbeker en ander internasionale kompetisies ry die ruiters op onbekende perde. Horsemanship en die vermoë om verskillende en vreemde perde goed te kan ry, is baie belangrik,” het Dercksen gesê.

Volgens Dercksen is baie moeite gedoen om die proewe professioneel en op ’n hoë standaard aan te bied.

“Al die ruiters was goed voorberei en die mededinging was straf. Met die opbou tot en met die proewe het ek nogal gestres, maar op die dae van deelname het fokus oorgeneem,” voeg hy by.

Dercksen ry al amper 13 jaar perd – sedert hy drie jaar oud was. Sy pa se perde waarmee hy ry, is Dance in the Clouds en Mighty Joe.

“Amper almal in ons gesin neem aan die sport deel, en as die jongste het ek met perdry grootgeword,” het Dercksen gesê.

Hy oefen tans privaat by De Bosch-stalle in Stellenbosch onder sy afrigter, Adriaan Odendaal.

“[Hy] is ’n uitstekende afrigter wat al twee ruiters vir die senior Protea-span opgelewer het. Hy het ’n goeie balans van streng en genadig wees. Ek kan my nie indink om by enige ander afrigter te ry nie, en sy ervaring en leiding het ’n groot rol in my insluiting in die senior Protea-span gespeel,” het Dercksen gesê.

Dercksen is die enigste saalperd-ruiter by sy skool.

Volgens sy ma is die skool baie ondersteunend, veral wanneer hy weg is om aan byeenkomste deel te neem.

“Perdeskoue, kompetisies en proewe duur gewoonlik ’n paar dae; dikwels in ander provinsies. Tydens die akademiese inhaalproses is onderwysers altyd toegeeflik en medeleerders hou Francois op hoogte,” sê sy.

André van Staden, die rektor van PRG, sê die skool is baie trots op Dercksen met sy verkiesing as lid van die senior ruiterkunsspan.

“As die akademiese toppresteerder in sy graad, is hierdie jongman ’n toonbeeld van toewyding en veelsydigheid. Die PRG-gemeenskap wens hom alle sterkte toe met sy deelname in die Wêreldbeker later vanjaar,” het Van Staden gesê.

Hoewel perdry een van sy passies is, glo Dercksen dit is belangrik om ’n goeie balans te handhaaf deur aan ’n verskeidenheid aktiwiteite deel te neem.

“In die aanloop tot ’n belangrike kompetisie sal ek met meer fokustyd aan perdry bestee, maar ek probeer altyd om nie slegs op een aktiwiteit te fokus nie,” voeg hy by.

Sy volgende doel is om goue medaljes as deel van die Protea-driegang-ruiterkuns-span in Julie by die Wêreldbeker te wen.

Hy is wel bewus dat dit geen maklike taak gaan wees nie aangesien die Amerikaanse span baie sterk is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article