Die jaar 2022 het twee besoeke aan die Volkskerk in Kahlerstraat, Idasvallei, tot gevolg gehad. Ongelukkig was albei vir begrafnisse.
Vroeër die jaar moes ons Hilton Biscombe groet en, verlede week was dit die begrafnis van Otto van Noie. Albei van hulle was uitsonderlike denkleiers wat ’n groot impak op onder meer die gemeenskap, kerk en skool gemaak het.
Ek sal veral die gesprekke en interaksie met Van Noie mis. Ons gesprekke oor die afgelope paar jaar het veral gehandel oor die (beter) posisionering van die Universiteit Stellenbosch (US) in die groter gebied en die universiteit se impak op die plaaslike gemeenskappe.
Van Noie was veral gemoeid met die rol van Matie Gemeenskapsdiens (MGD) ná Covid-19 en die integrasie daarvan in die US asook die rol en plek van die Ou Lückhoff-skool as ’n lewende museum wat moet dien as ’n baken van hoop en nuwe moontlikhede vir die komende geslagte.
Van Noie sal dus onthou word vir sy sagte geaardheid, veggees, moed, durf en liefde vir die onderwys en sy rol in die opheffing van die groter gemeenskap. Soos vele ander van sy tyd het hy besluit om hande te neem om nuwe moontlikhede waar te maak – dink hier maar aan sy onderskeie rolle in ons plaaslike gemeenskap selfs ná sy aftrede.
Dit is veral ds. Simons Adams se preek by die gedenkdiens wat my sal bybly. Adams het Van Noie beskryf as ’n seder. Dit doen hy nie net om ons te herinner aan die grootse impak van Van Noie nie, maar juis ook om ons te herinner aan sy uitstaande kenmerke – brugbouer, vennoot en aktivis.
En daarmee moedig hy ons natuurlik aan om hierdie voorbeeld lewend te hou.
Om dus ná die gedenkdiens verby Otto en Minnie van Noie se huis te ry, met die frangipani wat langs die stoep vol stories pronk, en om te weet dat, verder af in die straat, die kis besig was om sy finale roete te neem, is om te weet dat die verlange lank en diep sal wees.
Maar ook – dit help my en ander om meer te doen, verder te dink en om regstelling en restitusie op vele vlakke te doen en te laat gebeur.