Die Toyota US Woordfees is terug, en dié keer is dit weer ’n kunstefees met ’n veel groter omvang oor nege dae versprei (7-15 Oktober) – nie sewe soos verlede jaar nie.
Die Woordfees was in 2022 die eerste keer ’n Bolandse lentefees. Die program is egter noodgedwonge onder groot druk saamgestel nadat Covid-19-kapasiteitsbeperkings vir teaters en byeenkomste eers in Junie gelig is.
Die 2023-program, wat in verskeie opsigte aan die bruising in die feestema, Borrel, gestalte gee, is Donderdagaand 22 Junie by ’n spesiale borrel (soos die Nederlanders ’n partytjie noem) op die Muratie-wynlandgoed met Tracey Lange as seremoniemeester bekend gestel.
Die volledige program is nou op woordfees.co.za beskikbaar waar ’n PDF van die volledige feesgids in Afrikaans en Engels afgelaai kan word. Die gratis gedrukte feesgidsboekie is ook nou by die Woordfeeskantoor in die Erfurthuis (Rynveldstr. 37, Stellenbosch) beskikbaar.
Kaartjies sal vanaf 7 Julie by Quicket te koop wees vir die ongeveer 640 unieke aanbiedings wat in meer as 50 venues in en om die Eikestad aangebied word.
Skrywersfees
Die Woordfees het as ’n boekfees begin en die Skrywersfees lê steeds aan die hart van die program. Besoekers kan vanjaar kies van 54 boekgesprekke waaraan meer as 90 gerekende skrywers en verskeie ander meningsvormers deelneem.
Nuwe boeke van, onder andere, Barbara Masekela, Bibi Slippers, Eben Venter, Etienne van Heerden, Johann Rossouw, Jonny Steinberg, Marita van der Vyver, Pieter Odendaal, P.P. Fourie, Rudie van Rensburg, Sihle Khumalo en SJ Naudé kom onder die loep en ’n glas word gelig op die geliefde Weskusskrywer Sussie Kotzé se 90ste.
Daar word ook aan die hand van boeke kopstukke gesels oor die ekonomie, kookkuns, politiek en natuurlik, in die jaar van ’n kragkrisis en die Wêreldbeker, oor Eskom en rugby.
Toneel
Vanjaar bied die Woordfees ’n meer uitgebreide toneelaanbod met 37 aanbiedings, waarvan 13 produksies op die fees debuteer. Onder die nuwe produksies is “Boesak,” ’n eenmanstuk wat die lewe van die teoloog en anti-apartheidsaktivis Allan Boesak dek. “Die vegetariër,” ’n vertaling van Han Kang se roman, The Vegetarian, deur Willem Anker, en “Monsters,” wat ware gebeure van 12 Februarie 1993 ondersoek, is ook deel van die program. Daar is ook ander bestaande produksies wat nog ’n speelvak by die Woordfees het.
Fringe– en kinderfees
Vanjaar se program sluit weer soos in 2020 ’n Fringe– en Kinderfees in. Daar is 13 stukke, waarvan vier debute is op die Fringe-program, waar jong kunstenaars kanse kan waag en feesgangers opwindende, ontluikende talent kan ontdek.
Die Kinderfees bestaan uit agt aanbiedings wat groot, leersame vermaak en plesier vir die kleinspan en hul ouers belowe.
Daar is vier uitgesoekte aanbiedings op die DANS-program, wat nog ’n geleentheid bied om die bekroonde Karatara te sien.
Van die land se grootste grapmakers bring vars vertonings na die Savanna Komedie-program: Alan Committie, ’n nuwe Francois Toerien Show, Île met Sophie Joans, Namaste Bae – Blessings and Kombucha met Rob van Vuuren, Rambunctious met Nik Rabinowitz, en ’n stand-up-vertoning deur Shimmy Isaacs.
Klassieke Musiek
’n Verskeidenheid van 23 konserte word vanjaar aangebied. Die program sluit in die Universiteitskoor Stellenbosch, ’n viering van Rachmaninoff se 150ste verjaardag met Nina Schumann, Megan-Geoffrey Prins en ’n orkes onder leiding van die opwindende jong dirigent Jacobus de Jager, tot Classical Calabash, waarin jong komponiste met ’n unieke vermenging van inheemse Afrika-instrumente, sang en klassiekemusiekkonsepte bekoor en die Amici-kwartet se uitvoering van Beethoven String Quartets: “The Beginning and the End” en Johann Sebastian Bach: “The Flute Sonatas”. Daar is ook optredes deur Gareth Lubbe en Luis Magalhães, die Cape Choral Academy met die Kaapse Barokorkes, die Charl du Plessis-trio, Songs of Shakespeare, en The Dante String Quartet. Pensioenarisse geniet ’n R15 afslag op vooraf gekoopte Klassieke Musiek-kaartjies.
Die Toyota Musiekfees
Met 46 aanbiedings by die Woordfees kan feesgangers ’n verskeidenheid musiekgeleenthede, van groot stadionkonserte tot intieme kabaretvertonings geniet. Daar is piekniekkonserte by die Van der Stel-sportterrein, optredes met jazz, rock, rumba, hip-hop en pop. Die Van der Stel-piekniekkonserte sluit in kunstenaars soos Fokofpolisiekar, Desmond and the Tutus, Majozi, Spoegwolf, Van Der Aven, Zaan Sonnekus, Gian Groen, Jan Blohm en Die Heuwels Fantasties. Musiekindaba bied ook optredes deur Arno Carstens, Sima Mashazi, Jack Parow, Kurt Darren, Loki Rothman en ander. Daar is ook kabaretvertonings deur Amanda Strydom, André Schwartz, Elsabé Zietsman en vele meer.
Leefstyl
Daar is meer as 50 aanbiedings op die Leefstyl-program wat bestaan uit ’n wye verskeidenheid van lekker en interessante goed om te verken, eet, drink, leer en ervaar. Jy kan gaan stap, draf, joga of met ’n e-fiets ry, tuine kyk, kookdemonstrasies bywoon, argitektuurtoere meemaak en alles proe en geniet wat die wynlande en Stellenbosch se koskultuur te bied het.
Die amptelike opening van die 2023-fees op 6 Oktober vind aan die gesellige Langtafel onder die eike, tussen die pragtige ou geboue van Ryneveldstraat, plaas. Vanjaar verskaf Bertus Basson en die topdrie-spanne van kykNET se Kokkedoor vuur en vlam inspirasie vir die aand se spesiale spyskaart en Stellenbosch-wynroetes bied weer ’n reeks gewilde geleenthede aan, terwyl gholf en die kunste hande vat vir ’n goeie doel by die Devonvale-gholfklub met die tweede Toyota US Woordfees Gholfdag in vennootskap met die Cheetahs Rugby Trust.
Visuele Kuns
Die Visuele Kuns-program bied vanjaar eweneens ’n veel groter verskeidenheid met Wilma Cruise, wat met ’n groot uitstalling as die feeskunstenaar gehuldig word. Hierdie uitstalling, en drie ander uitstallings (Boerplek van vrees, Fanfare en Karoo Kitaar Blues wat ook in die US Museum uitgestal word, is gratis.
Die Woordfees het verlede jaar die eerste keer in samewerking met Strauss & Co. ’n veiling aangebied wat met ’n uitstalling van die werke wat te koop is, gepaard gegaan het. Vanjaar word hierdie suksesverhaal herhaal. Daar sal weer uitgestalde gehaltewerke te koop wees wat iets vir elke begroting bied – van beginnerversamelaars met beperkte finansies tot duur, gesogte stukke vir kunskenners met diep sakke.
Ateljeebesoeke is ’n nuwe inisiatief wat feesgangers toegang gee tot Stellenbosse kunstenaars se skeppende ruimtes. Op vasgestelde tye is deelnemende kunstenaars in hulle ateljee beskikbaar. Jy kan ’n kaartjie vir ’n individuele ateljeebesoek koop en/of met die feesbussie ’n kunsroete volg en verskeie ateljees ná mekaar besoek.
Nuut en verniet of goedkoop
Byna al die uitstallings op die Visuele Kuns-program is verniet – dis net die Ateljeebesoeke wat iets kos indien jy die pendeldiens gebruik – dit kos R15 per rit; R50 per dag en R150 vir die hele fees. Bussies pendel vanaf die feeskern en die parkeerterreine, Hoërskool Stellenbosch en Kochstraat-grasperk, tussen alle feesvenues waar aanbiedings geskeduleer is.
Daar is 52 gesprekke op die Diskoers-program en 11 besprekings in die Landbou-gespreksreeks – en dis alles mahala.
Die Woordfees Filmfees (moontlik gemaak deur die Open Window) bars vanjaar uit sy nate met oor die 60 films uit meer as 20 lande wat gratis vertoon word, asook agt vollengtespeelfilms, wat spesiale voorskoue insluit.
Feesgangers sal ook die eerste geleentheid kry om die première van ’n nuwe dokumentêr te sien oor die lewe en werk van Gert Vlok Nel, My broer, Gertjie.
Vir die vollengtespeelfilms en die dokkie oor Gert Vlok Nel word wel kaartjies verkoop, maar as jy vooraf koop, kos dit net tussen R60 en R80 vir jou sitplek.
Die groot piekniek-buitelugkonserte by die Van der Stel-sportterrein is baie bekostigbaar met kaartjiepryse wat tussen R60 en R150 lê.
Daar sal vanjaar ’n verskeidenheid afslagpakkette beskikbaar wees met verlaagde pryse vir studente en pensioenarisse. Die Bly Vrydag-inisiatief sal ook weer aangebied word wat goedkoop kaartjies na ’n keur van aanbiedings verkoop om die fees toeganklik te maak vir soveel mense as moontlik wat in en om Stellenbosch woon.