AfriForum se trauma-eenheid het op 8 Oktober in Stellenbosch nege vrywilligers opgelei om slagoffers van plaasaanvalle en geweldsmisdade op die toneel by te staan. Die behoefte aan trauma-ondersteuning het weens die toename in hierdie soort misdade in landelike gebiede toegeneem.
Izel Kruger en Johan Kloppers, trauma-beraders van AfriForum se trauma-eenheid, het dié vrywilligers in die Wes-Kaap met die nodige kennis en vaardighede toegerus.
Die nege vrywilligers van die De Doorns-, Strand-, Helderbergkom- en Bellville-buurtwagte het by die Vredenheim-wynlandgoed vir praktiese opleiding saamgetrek.
Die opleiding rus vrywilligers toe om slagoffers van plaasaanvalle en geweldsmisdade op die toneel emosioneel te ondersteun, te bemagtig en in hul onmiddellike behoeftes te voorsien. Realistiese tonele is vir die kursusgangers geskep om hul vaardighede op die toneel te verskerp.
“Die vrywilligers het baie by die praktiese opleiding gebaat en hulle het nou die nodige vaardighede om slagofferondersteuning in hul gemeenskappe te verleen. Hierdie opleiding en vrywilligers is ’n waardevolle toevoeging tot gemeenskapsveiligheid, en ons hoop dit kan nog verder uitgebrei word,” sê Kloppers, wat ook AfriForum se trauma-berader vir die suidstreek is.
Die trauma-eenheid moedig buurtwagte en takke aan om deurgaans vrywilligers vir die eenheid te werf om sodoende die eenheid se vermoë om slagoffers tydens plaasaanvalle en geweldsmisdade te ondersteun, te versterk.