Wes-Kaap Gesondheid en vennote help ouers regdeur die jaar om kinders se gesondheid ’n hupstoot te gee, maar vra dat ouers en versorgers vinnig oorgaan tot aksie as jonger kinders diarree opdoen.
Indien jou kind diarree (’n “loopmagie” of los stoelgang) opdoen of braak, moet jy gou help dat hy weer vloeistowwe inneem. Indien die kind nie vinnig beter word nie, of as jy gevaartekens opmerk, moet jy die kind dadelik na die kliniek of hospitaal neem.
Hoe kan jy help?
. Voorkom diarree deur gereeld hande te was. Leer jou kinders om dit ook te doen. . Hou oppervlaktes in jou kombuis skoon deur warm water en seep te gebruik.. Indien jou kind ’n loopmagie kry of braak, moet jy keer dat jou kind ontwater. Maak só: Kook ’n liter water en laat dit afkoel. Meng dit met agt teelepels suiker en ’n halwe teelepel sout. Gee gereeld slukkies hiervan vir jou kind. Indien die kind die oplossing uitbraak, wag vyf minute en gee weer klein slukkies op ’n keer.. Let op gevaartekens! Kry dadelik mediese hulp as jy bloed in die stoelgang/doek gewaar, as die kind vlak of vinnig asemhaal, as die kind nie wil eet of drink nie of alles opbring, en as jou kind in die niet staar en nie op-en-wakker is soos gewoonlik nie.
“Aangesien kinders se liggaam klein is, het dit ’n groot invloed op hulle elke keer dat hulle ’n loopmagie het of braak. Jy moet góú die vloeistof in hul liggaam aanvul deur hulle die suiker-en-sout-oplossing te gee,” sê sr. Roenell Balie, wat lid is van die span wat kindergesondheidsdienste vir Wes-Kaap Gesondheid in die Kaapse Wynland koördineer.
Wes-Kaap Gesondheid doen met die hulp van nie-regeringsorganisasies bewusmaking oor diarree. Bottels en pakkies met die droë bestanddele wat jy moet meng om te drink om ontwatering te voorkom, word ook in gemeenskappe uitgedeel. “Onthou, dis maklik om dit self tuis te maak. Moenie net staatmaak op die pakkies wat uitgedeel word nie,” sê Balie. “Jonger kinders wat hul roetine-immunisering, hulp met voeding en ander dienste by ons klinieke kry, kan toestande soos diarree makliker as ander kinders afweer; maak dus asseblief gebruik van ons dienste.”