Die familie van ‘n 16-jarige is steeds geskok nadat hy Saterdag (17 Mei) vermoedelik deur ‘n motoris op die R44 naby Cloetesville doodgery is.
Saterdag was die amptelike einde van Wêreldwye Padveiligheidsweek. Volgens die Wes-Kaapse departement van gemeenskapsveiligheid is sowat 25% van alle padsterftes dié van voetgangers en fietsryers.
Saterdag het Valentino “Tino” Moses ongelukkig deel van hierdie statistieke geword.
Tino se familie is die afgelope naweek in rou gedompel nadat hy glo die R44-pad probeer oorsteek het toe hy getref is. Gerugte doen die ronde dat hy besig was om van kwaaddoeners te vlug wat hom wou beroof het. In die proses is hy egter getref en vir dood agtergelaat. Sy familie verduidelik die talentvolle sokkerspeler was naby die ingang van Timberlea-plaas, waar hy gewoon het, toe hy getref is.
“Ek was in Port Elizabeth (Gqeberha)toe die ongeluk gebeur het,” vertel Tino se ma, Leticia. Sy het Sondag teruggekeer en begin om uit te pluis presies wat Saterdag voor 18:00 met haar seun gebeur het.
Leticia, wat saam met haar gesin op die plaas Timberlea woon, sê haar kind het groot drome gehad.
“Hy was lief vir sokker. Die afgelope drie weke toe ons saam by die huis was, het hy die hele tyd gesê eendag sal hy vir ‘n internasionale sokkerklub speel en dan sal hy vir my ‘n huis koop. Dan sal ek nie meer hier op die plaas hoef te werk nie.”
Die sokkerster het vir die Cloetesville-sokkerklub gespeel en was lid van Safa Kaapse Wynlande se Celtic se o.17-span.
Tino was een van vier kinders en Leticia verduidelik hoewel die tiener en sy sibbe soms kon stry kry, het hulle vinnig weer opgemaak en dan weer saamgespeel.
Tino het sy skoolloopbaan by Rietenbosch Primêre Skool begin en nadat hy by die Hoërskool Cloetesville was, is hy onlangs by die Ou Lückhoff-skool ingeskryf.
Sy familie vertel buiten Tino se atletiese vermoë het sy vriendelikheid en sprankelende geaardheid hom vele vriende besorg.
Die gemeenskap van die Timberlea- plaas het Maandag ter nagedagtenis aan Tino ‘n kruis en blomme vir die seun langs die pad neergelê.
‘n Lid van die publiek het aan Eikestadnuus gesê die seun was steeds lewend na die ongeluk, maar beweer mediese personeel het eers later opgedaag, wat Valentino se kanse vir oorlewing aansienlik verlaag het.
Tino is na die Stellenbosch-hospitaal gehaas, maar is later weens die erns van sy beserings oorlede.
Volgens Stuart Grobbelaar, ‘n woordvoerder van die Stellenbosch-munisipaliteit, het ‘n beampte van die verkeersafdeling om 18:20 by die toneel aangekom, waar noodpersoneel reeds besig was. “Ooggetuies op die toneel het bevestig die motoris het van die toneel af gevlug en hul identiteit is steeds onbekend,” verduidelik Grobbelaar.
‘n Saak van strafbare manslag word deur Cloetesville-polisie ondersoek. “Slegs ‘n nommerplaat van ‘n voertuig was op die toneel gevind,” het AO Zenobia Sedeman, Cloetesville-polisiewoordvoerder, verduidelik. Enigeen met inligting oor die ongeluk word versoek om met die ondersoekbeampte konstabel Thandisizwe Mabhija by by 082 778 9952 of 021 809 5062 skakel.
Die seun laat sy ma, sy pa, Denzil Hendricks, twee broers en ‘n suster agter.
‘n Gedenkdiens word vandag (Donderdag 22 Mei) by sy ouma se woning op die Timberlea-plaas gehou.
*Addisionele kommentaar van die Cloetesville-polisie is by hierdie weergawe van die berig gevoeg wat nie in die oorspronklike koerantberig van Eikestadnuus, Donderdag 22 Mei 2025, gepubliseer is nie. – Red.