Die vakansieseisoen is ’n tyd van vreugde, feesvierings en eenheid vir families, insluitend ons troeteldiere.
Of jy nou beplan om jou geliefde vierpoot-gesinslede vir die feesvierings saam te neem en of jy hulle by ’n vertroude dierehawe, kat-herberg of troeteldieroppasser los terwyl jy weg van die huis af is, is dit belangrik om stappe te neem om jou diere se welstand en gemak gedurende die moontlik stresvolle tyd te verseker.
Al die onsekerhede soos nuwe omgewings en moontlike huisgaste, asook lawaaierige geleenthede soos Oujaarsaand, kan daartoe lei dat troeteldiere angstig raak, waarsku Marycke Ackhurst, ’n troeteldiergedrag kenner by Hill’s Pet Nutrition.
“Indien jy reeds weet dat jou troeteldier maklik bang word, is dit belangrik dat jy weet hoe om die stres te verlig. ?Onthou – iets wat vir ons ‘simpel’ is, soos meubels rondskuif, kan spanning vir ’n angstige troeteldier veroorsaak,” verduidelik sy.
Dit is belangrik om te weet dat honde en katte se gehoor baie skerp en meer sensitief as dié van mense is, dus kan harde geluide ver van die huis af steeds ’n angsreaksie vir die dier veroorsaak.
Ackhurst beveel troeteldierouers aan om waaksaam te wees en op die volgende angsgedragtekens te let:
Honde – lek van neus of lip; gaap; oormatige gehyg; verlaagde aptyt; gesakte of ingesteekte stertjie; ore wat agtertoe vasgepen is; ineenkrimp; bewerig; toenemende geluide soos blaf, tjank, kerm, ensovoorts; en oormatig aandag soek.
Katte – urineer in vreemde plekke; kompulsief krap; wegkruip; paniekerige miaau’s of herhalende gekerm; aggressie; slaap meer; en verlaagde aptyt
Om jou troeteldiere deur die moontlike stresvolle tyd te help, het Ackhurst die volgende raad gedeel:
- “Speel” bekende geluide in die huis, soos die televisie of agtergrondmusiek. Hoe meer dit soos ’n alledaagse, normale situasie voel, hoe beter.. Skep ’n gemaklike, kleiner ruimte in die huis waarna jou troeteldier kan gaan wanneer hy of sy angstig voel. Gee hom of haar ’n smaaklike speelding om aan te kou as afleiding van enige harde geluide.
- Verminder buitegeluide en helder ligte deur die vensters, deure en gordyne van die huis toe te maak.
- Vir katte wat met vryheid buite en binne die huis beweeg, plaas eerder ’n rommelbak binne en maak die deure en die katteklep toe sodat hulle nie in die aand buite ronddwaal nie.
- Indien jy nie by die huis by jou troeteldiere kan bly nie, maak seker iemand wat jou diere vertrou, is daar om hulle gerus te stel en te kalmeer. Hoe minder veranderings in dié tyd, hoe beter.
- Indien jy jou troeteldier vir die vakansie by ’n dierehawe of kat-herberg gaan aflaai, maak seker dat daar goed van die huis af, soos hul beddens, gunstelingspeelding of kombersie, by is. Sodoende sal die verandering van die omgewing minder dramaties en stresvol vir hulle wees. Jy kan ook oorweeg om honde- en katspesifieke feromoonverspreiders, halsbande of spuitmiddels te gebruik om hulle minder angstig te laat voel.
- Vra jou veearts oor spesiaal geformuleerde kos wat help om stres te verlig. Vir ernstige gevalle kan hulle dalk medikasie aanbeveel.
- As jy ’n stresvolle gebeurtenis, soos vuurwerke of selfs dierehawes verwag, word dit aanbeveel dat jy jou troeteldier vier weke voor die tyd oorskakel na stresverminderende kos. Baie troeteldierouers het egter positiewe uitkomste so vroeg as ’n paar dae aangemeld. As jou troeteldier die senuweeagtige soort is, kan jy dié kos vir langtermynvoeding oorweeg.