Die lesersbrief in Eikestadnuus van Donderdag 5 Desember getiteld “An open letter to executive mayor Fasser” deur “Concerned residents” verwys.

Hoekom is die skrywer of skrywers nie bereid om hul name bekend te maak nie? Dit laat wenkbroue lig.

Natuurlik stem ek saam dat die parkeergarage in die middedorp ’n euwel is wat geensins met die wetgewing en die Stellenbosse Ruimte­like Ontwikkelings­raamwerk (ROR, MSDF) vereenselwig kan word nie. Ek stem ook saam dat “park-and-ride” ’n deel van die oplossing is.

Ek verskil egter met die skrywer se oordeel dat die Comprehensive Integrated Transport Plan (CITP) “goed deurdagte oplossings aanbied om die uitdagings van verkeer in Stellenbosch aan te durf”. Die CITP soos in 2023 goedgekeur is eintlik net ’n versteekte legitimering van die groot padbouplanne van die Roads Master Plan. Die Roads Master Plan is die dryfkrag van die CITP, nie volhoubaarheid of tersaaklike wetgewing nie.

Die CITP bevat allerlei mooi stellings en drome oor openbare vervoer, NMT, busroetes en volhoubaarheid, maar wat saak maak is nie mooi woorde nie, maar finansiering.

Friends of Stellenbosch Mountain het in 2023 uitgewys dat 95% van die driejarige begroting vir mobiliteit van ongeveer R1,173 miljard op paaie en motors gespandeer word. Die bietjie wat tans op sypaadjies en ’n fietsroete hier en daar gespandeer word, is goed, maar voorsien nie regtig in die behoefte aan openbare vervoer nie.

Die 2023 CITP moet teruggetrek word, ’n nuwe CITP moet van meet af opgestel word, en die munisipale en provinsiale begroting vir mobiliteit moet fundamenteel verander om nie paaie nie, maar noodsaa­klike infrastruktuur vir open­bare vervoer te finansier. Byvoorbeeld moet die munisi­paliteit goeie en gerieflike openbarevervoer-verbindings tussen Droë Dyke, die treinstasie en die middedorp vinnig en deeglik finansier en implementeer. “Park-and-ride”-fasiliteite moet ook as prioriteit gefinansier word. ’n Paar honderd miljoen rand oorgeplaas van die huidige paaie-begroting sou dit kan bewerkstellig.

HC Eggers,

Friends of Stellenbosch Mountain

You need to be Logged In to leave a comment.