Tristan Faroa (21), ’n derdejaarstudent aan die Universiteit Stellenbosch wat BA geesteswetenskappe studeer en in atletiek uitblink, het onlangs ’n goue medalje vir driesprong by die Universiteit Sport Suid-Afrika (USSA)-atletiekkampioenskap gekry.
Dié goue atleet en boorling van die vissersdorpie Struisbaai meen sport en geloof het hom gebring tot waar hy vandag is.
“Ek glo tot vandag toe dat dit nie ek is wat hierdie studierigting gekies het nie, maar die Hemelse Vader. Ek het nie ná graad 12 ’n plek gehad vir verdere studie nie. Selfs Maties het my afgekeur. Maar twee weke voordat klasse begin het, het die hoofafrigter van Maties-atletiek my gekontak en binne ’n week en ’n half was ek ’n Matie.”
Sy omstandighede was dikwels ’n hindernis, vertel Faroa, en hy kon nie altyd sportaktiwiteite op skool bywoon nie omdat hy 30 km van sy skool af gewoon het.
“Ek was nog altyd lief vir sport, maar sou nooit myself in sport ontdek het as dit nie vir my onderwysers was nie. Hulle het geglo ek kan sport doen. Ek woon in Struisbaai, so 30 km uit Bredasdorp. Ek het tydens my laerskoolloopbaan in en uit gery en het weens omstandighede nie tyd gehad om ná skool vir sport te bly nie. Juffrou Eileen Janson het my laat een dag laat agterbly en my self vervoer omdat sy geglo het ek moet oefen en aan my potensiaal geglo het.”
Volgens Faroa het hy nie veel geweet wat die geesteswetenskappe behels nie, maar het dit geniet om van mense en die samelewing te leer. Hy sê dit kan hom in die toekoms baat. “Ek het myself deur hierdie kursus gevind – dit waarvoor ek lief is en ook waarvoor ek wil staan,” het Faroa vertel.
“Ek het besef hoekom ek ’n verskil wil maak en ek glo ek kan dit nog beter deur sport doen, want sport kan eintlik die deure tot baie geleenthede oopmaak.”
Die USSA-atletiekkampioenskap het vanjaar by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) plaasgevind waar Maties Sport 11 medaljes ingeryg het. Foroa sê die goud is sy hoogtepunt van die jaar, maar dit het baie “uithouvermoë, harde werk, deursettingsvermoë en nederigheid” geverg om dié prestasie te haal.
“Hierdie wen was ’n oorwinning en gewis my hoogtepunt omdat ek dit fisiek, geestelik en spiritueel gewen het.”