Die trompoppies van Pieter Langeveldt Primêr wat in 1992 as die provinsiale kampioen gekroon is, het Saterdag (26 Oktober) weer byeengekom en sommer hul destydse skoolhoof se verjaarsdag ook gevier.
Destyds was dié groep die skool se eerste (en tot dusver sy enigste) trompoppiespan wat die nasionale kampioenskap, toe by Loftus Versfeld in Pretoria aangebied, gehaal het. Hulle het met silwer weggestap.
Dertig jaar later, in 2022, het die vroue besluit om ’n reünie te hou en sedertdien kom hulle jaarliks byeen om te kuier en terug te dink – saam met hul oud-onderwysers en hul gewese afrigter, Fiona van Kerwel.
Van Kerwel kon egter nie vanjaar se reünie bywoon nie.
Die voormalige skoolhoof Henry Cyster onthou die moeite wat gedoen is om die meisies in Pretoria te kry, baie goed. “Hulle was altyd die trots van die skool,” sê Cyster.
“Ongelukkig, om trompoppies te hê moet jy van die beste en duurste uitrustings hê, maar vir ons was dit nie ’n probleem nie want ons het ’n baie aangename mens as ons borg gehad. Wyle mnr. De Canha het die trompoppies uit en uit gedra danksy sy borgskap.
“Die uitkyk was as een kind van genoegsame gehalte was om deel te neem, dan moes almal gaan. Hulle was daardie tyd 45 tot 50 lede en moes alles nuut kry. Dit was ’n bietjie bo ons vuurmaakplek, maar ons het mnr. De Canha gehad wat alles gedek het. Dr. Danie Craven het ook ’n bydrae gelewer en met sy hulp het die Stellenbosse trompoppies danksy die Blou Bulle slaapplek gehad.”
Die meisies het hul afdeling in Pretoria gewen en is as die besgeklede span aangewys. Die meisies het ná hul vertoning partytjie gehou en hoor toe in Cloetesville word ook feesgevier.
“Ons is laat weet hoe die mense hul vertoning waardeer het en hoe trots hulle op die kinders was. Toe ons terugkom, was die hele Langstraat vol mense – van die winkel tot onder in Smartie Town. Die mense het die kinders uit trots ingewag,” onthou Cyster.
Volgens Nazli Cariem en Evelyn Machalie was vanjaar se bymekaarkoms nog meer spesiaal omdat die groep ook Cyster se 80ste verjaarsdag (van vroeër vanjaar) gevier het.
“Ek sien almal een keer ’n jaar. Hier en daar loop sommige van ons mekaar raak, maar min van ons woon nog in Stellenbosch. Die opgewondenheid gaan daaroor om mekaar en veral ons oud-onderwysers te sien,” sê Machalie.
Die groep geniet dit om saam herinneringe te deel en onthou goed hoe hulle die underdogs van die kompetisie was. Die skool het nie ’n veld gehad nie en die meisies moes op gruis kniel en oefen.
Cariem vertel baie kere is die meisies huil-huil huis toe, maar het die volgende dag weer kom oefen.
“Destyds was dit net die wit skole wat aan die kompetisie deelgeneem het, maar ons het die kompetisie gehaal. Ons weet nie waar alles vandaan gekom het nie, maar die skool het baie hard gewerk. Toe het ons die eerste plek by die provinsiale kompetisie gewen – dit was awesome. Ons was tweede in die presidentsbeker. Dit was ’n fenomenale jaar vir ons.”
Die 1992-span sê hulle is trots om deel van hul alma mater se geskiedenis te wees.