Stellenbosch se “Turbotoppies”, soos alle 50-jaar-plus roeiers by die Maties-kanoklub bekend staan, is slaggereed om die 62ste Bergrivierkanomarathon, wat volgende week in die Paarl begin, aan te durf.
Altesaam 15 van die Maties-kanoklub se ouer roeiers het hulle reeds daartoe verbind om aan vanjaar se Bergrivier-kanomarathon, wat Woensdag 5 Julie by die Markstraatbrug in die Paarl begin en vier dae en 240 km later by Velddrif aan die Weskus eindig, deel te neem.
“Ons het laag gelê met ons rivieroefensessies weens die onlangse oorstromings, aangesien die riviervloei dan redelik onvoorspelbaar is en ’n mens maklik onder opdrifsels vasgevang kan word,” sê die 75-jarige Johan van Rooyen, die oudste Turbotoppie in die groep, en wat mik om vanjaar sy 16de Berg’ te voltooi.
oefen saam in donker, koue
Die Bergrivier-kanomarathon, wat vir Johan ’n permanente deel van sy jaarlikse sportkalender geword het, verteenwoordig ’n avontuur deur ’n winterlandskap soos net die Boland kan bied.
“Dit het ’n rukkie geneem om aan die koue weerstoestande gewoond te raak, soos om in die donker op te staan, in jou kano te klim en dan te begin roei, maar ek kan my nie ’n winter sonder die marathon voorstel nie en sal dit doen so lank as wat ek nog kan.
“Die ondersteuning wat ek oor die jare van die Turbotoppies ervaar het, help ook baie. Ons oefen saam en kyk na mekaar deur die jaar. Hul kennis en wysheid is van onskatbare waarde. Hulle is inderdaad ’n uitsonderlike groep mense,” sê Johan.
Hierdie sentiment word deur nog ’n Turbotoppie, Danie Brink, gedeel. Hy pak vanjaar sy sesde marathon aan. “Die Berg’ daag jou uit, dog spoor jou aan en dryf jou tot uiterstes, maar beloon jou ook – die kosbaarste daarvan die vriendskappe wat jy smee en herinneringe wat ons deel,” sê hy.
Brink is ’n professor en dekaan van die Universiteit Stellenbosch se fakulteit agriwetenskappe, en Van Rooyen is ’n afgetrede buitenwone professor in landbouekonomie aan die US.
studente roei saam
Die Turbotoppies van die Maties-kanoklub, wat hulle verbind het om aan vanjaar se Berg’ deel te neem (met marathons reeds voltooi in hakies) is Hanré Streicher (6), Francois Loedolff (37), Francois Meyer (8), Danie Brink (5), Johan van Rooyen (15), David Malherbe (6), Schalk Smit (12), Daantjie Malan (11), Andries JP Smit (25), Stephan du Toit (16), Gert van Deventer (16), Theuns Matthee (15) en Barry Muller (5). Matiestudente wat saam met hulle roei, sluit in Ross Leslie (1), Carel Botha (1), Luka Koumantakaris (0) en David Evans (0).
Die Bergrivier-kanomarathon se 240 km is as volg oor die vier dae verdeel: Dag 1 van die Paarl tot Zonquasdrif (62 km); Dag 2 van Zonquasdrif tot Bridgetown (46 km); Dag 3 van Bridgetown tot Zoutkloof (75 km); en Dag 4 van Zoutkloof tot Velddrif (57 km).
Een van die mees uitsonderlike roeiers wat aan vanjaar se marathon deelneem, sal ongetwyfeld die 84-jarige Jannie Malherbe wees, wat vanjaar sy 50ste kanomarathon aanpak. Jannie het sy eerste Bergrivier-kanomarathon reeds in 1962 voltooi.