Twaalf ‘sindikaatlede’ in die hof

Vervalste salarisstrokies, werkskontrakte en bankstate was glo deel van ’n swendelary-sindikaat se werkswyse om voertuigfinansiering ter waarde van meer as R40 miljoen van verskeie banke te verkry.


Vervalste salarisstrokies, werkskontrakte en bankstate was glo deel van ’n swendelary-sindikaat se werkswyse om voertuigfinansiering ter waarde van meer as R40 miljoen van verskeie banke te verkry.

Twaalf lede van dié sindikaat van oor die Kaapse Skiereiland en Boland heen het Donderdag (14 Desember) in die landdroshof in Stellenbosch verskyn nadat hulle Woensdag 13 Desember ná ’n ondersoek van amper twee jaar deur speurders van die handelstak in hegtenis geneem is.

Die 12 is Charles Scheepers (34) van Wellington, John Meyer (53) van Worcester, Nashieq Samuels (28) van Grassy Park, Liam James (28) van Bothasig, Neville Arends (64) van Wolseley, Bronwyn Manuel (47) van Factreton by Maitland, Nolan Daames (52) van Worcester, Willem Prins (61) van Worcester, Brandon Klink (32) van Worcester, Bernard Olians (59) van Tafelsig in Mitchells Plein, Patrick Anthony (63) van Kraaifontein en Gretchen Julies (44) van Strand.

Hulle het in die hof verskyn op aanklagte van bedrog, vervalsing en uitgifte, oortreding van die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad, geldwassery en oortreding van die kuberwet, sowel as die voordoen as ’n sekerheidsbeampte.

Die staat voer aan hulle is deel van ’n sindikaat wat van 14 Julie 2021 tot Maart vanjaar met twee voormalige werknemers van twee motorhandelaars in Stellenbosch en ’n derde persoon, wat hom as die eienaar van ’n sekerheidsmaatskappy van ’n motorhandelaar in Stellenbosch voorgedoen het, saamgewerk het om voertuigfinansiering van meer as R40 miljoen te kry vir mense wat nie daarvoor gekwalifiseer het nie.

Vervalste bankstate, salarisstrokies en werkskontrakte is glo gebruik om by banke aansoek te doen om voertuigfinansiering. Al die voertuie is volgens die staat by twee motorhandelaars in Stellenbosch gekoop.

Die persoon wat hom as die eienaar van die sekerheidsmaatskappy voorgedoen het, sou glo die vervalste dokumente aan die twee voormalige werknemers verskaf en voorgee dat hy die werkgewer van die mense is wat vir die voertuigfinansiering aansoek doen.

Hy het glo die motorhandelaar genader onder die voorwendsel dat hy van sy nuwe personeellede bring om voertuie te koop en dat hulle wil aansoek doen vir die “geldterug”-ooreenkoms. Finansiering sou verkry en die voertuie gekoop word, waarna die kopers soos mis voor die son verdwyn het. Geen voertuigpaaiemente is ooit betaal nie.

Volgens die staat gaan die ondersoek nog voort. Die saak teen die beskuldigdes is tot 28 Februarie 2024 uitgestel. Hulle is op borgtog van R2 000 elk vrygelaat en moet volgens hul borgtogvoorwaardes Maandae en Vrydae tussen 08:00 en 20:00 by hul naaste polisiekantoor aanmeld. Hulle mag ook nie enige van die staatsgetuies of die ondersoekbeampte kontak nie. – Netwerk24

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.