Twaalfde Dagbreek Straatmyl spog weer met groot name

Die 12de Dagbreek-straatmyl wat Donderdag 13 Oktober in Stellenbosch gaan plaasvind, spog weer met groot name én ’n nuutjie.


Die 12de Dagbreek-straatmyl wat Donderdag 13 Oktober in Stellenbosch gaan plaasvind, spog weer met groot name én ’n nuutjie.

Die legendariese atleet Zola Budd het reeds haar deelname bevestig nadat sy verlede jaar die eerste keer aan die wedloop deelgeneem het. Budd is steeds die Suid-Afrikaanse rekordhouer in die myl vir vroue met ’n tyd van 04:23:38 wat sy 4 Maart 1991 opgestel het. Haar beste tyd van 04:17:57 wat sy in 1985 gehardloop het, is steeds die Britse rekord.

Verlede jaar se junior topvroueatleet, Erna-Mari Conradie van die Paarl, het ook haar deelname bevestig. Sy het die o.15-afdeling gewen, maar haar tyd het haar algeheel vierde in die vroueafdeling geplaas. Sy het vanjaar ’n goue medalje by die SA Skolekampioenskap in die 1 500m gewen en is gekies om aan die ASA-jeugkampioenskap deel te neem.

Kobie Griffiths, wat deur Budd afgerig word, tree ook weer aan. Sy het vroeër vanjaar ’n silwermedalje in die 1 500m by die Wêreld-meesterskampioenskap in Tampere, Finland gewen en het verlede jaar nasionale kleure in Meestersbaanatletiek verwerf.

Na die groot belangstelling in 2021 is die organiseerders genoodsaak om ’n ekstra junior wedloop aan te bied – daar is nou drie junior wedlope. Die junior wedloop is vir seuns en dogters o.13, o.15 en o.19.

Atlete ouer as 45 kan vir die gewilde Meesters-afdeling aantree, terwyl geregistreerde atlete aan die hoogtepunt van die program, die ope afdeling, ken deelneem. Die mikpunt is ’n droommyl – ’n myl onder vier minute, daar is al twee droommyle gehardloop deur SA rekordhouer Johan Cronje (2015) en Ryan Mphahlele (2019).

Die pretmyl vir mans en vroue lok altyd massadeelname met baie atlete in pretpakkies en kostuums en is ’n groot aaantrekkingskrag vir toeskouers. Die US Woordfeestema vir 2022 is WILD – so enigiets kan gebeur.

Nuut op die program vir 2022 is die Mascot Dash. Skole en ondernemings word aangemoedig om hul gelukbringers te bring om deel te neem. Dié “wedloop” word oor ’n veel korter afstand beslis.

Die enigste mylwedloop vir skaatsplanke in Suid-Afrika word vanjaar vir die sewende keer aangebied met skaatsers wat teen duisligwekkende snelhede in Victoriastraat afjaag.

Daar is vanjaar nege wedlope in 14 afdelings met die eerste wedloop wat om 17:00 begin. Medaljes is op die spel vir topdeelnemers en pryse in elke afdeling en verversings vir alle deelnemers.

Die wedloop, wat in die historiese Victoriastraat plaasvind, vorm weer vanjaar deel van die Toyota US Woordfees.

Die eerste Dagbreek-straatmyl is in 2011 ter ere van oud-Matie De Villiers Lamprecht aangebied. Hy was die eerste Suid-Afrikaanse atleet om ’n droommyl (die myl onder vier minute) te hardloop – ’n myl is 1 609 m. Dié geskiedkundige wedloop het op 13 November 1964 op Coetzenburg in Stellenbosch plaasgevind. De Villiers was toe ? inwoner van die manskoshuis Dagbreek van die Universiteit Stellenbosch.

Oudergewoonte is daar musiek en vermaak en Redbull sal bydrae lewer tot ’n feestelike atmosfeer.

Vir meer inligting, kontak die organiseerder Francois Fouche, by Info@straatmyl.co.za en 083 368 5948. Die inskrywingsfooi is R40. Aanlyn inskrywings kan op die Facebookbladsy gedoen word – Straatmylfees. Registrasie is vanaf 15:00 voor Dagbreek-manskoshuis in Victoriastraat.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.