Van der Stel-Evergreens (VDE) se eerste en tweede spanne is die afgelope Saterdag (2 Julie) as die wenners van die noordelike liga van die Westelike Provinsie-rugbyunie aangewys. Foto:


Die rugbyklub Van der Stel-Evergreens (VDE) se eerste en tweede spanne is die afgelope Saterdag (2 Julie) as die wenners van die noordelike liga van die Westelike Provinsie-rugbyunie aangewys en het uit ’n moontlike 45 punte onderskeidelik 44 en 40 punte op die punteleer aangeteken.

“Ek is baie trots op die klub wat in 2017 een geword het – en soos almal weet, gaan samesmelting gepaard met baie groeipyne en jy moet fyn trap om albei klubs gelukkig te hou. Die kern waarvoor die klub staan, naamlik dat dit oor die spelers moet gaan en nie oor jouself nie, is nou bewys met die twee bekers wat die klub in een jaar verwerf het,” sê Charles Williams, voormalige voorsitter van die klub.

“Ek wil my dank uitspreek teenoor die afrigtingspanne van die eerstes – Alastair Siegelaar, Regan Marcus en Joseph Petersen – en die tweedes – Desmond Houston, Ando Dreyer en Avril Fillies. Hulle het die dissipline van die spelers omgeswaai en ek as buitestander kan nou sien dat die spanne afgerig word,” voeg Williams by.

Hy voeg by hy het volle vertroue in die bestuurspanne en weet die klub is in goeie hande. “Ek sien uit om VDE se vertoning in die Top-9 dop te hou, want dit is ’n nuwe kompetisie met nuwe opponente en die karakter van die spanne sal gemeet word.

“Ek het Alastair in 2020 as hulpafrigter vir Hein Gordon aangestel, maar hy moes die pos weens omstandighede van die hand wys. Ek is bly hy het vanjaar besluit om die pos te aanvaar, want hy was nie net ’n goeie skrumskakel vir die Lions en die WP nie, maar as afrigter by Scottsdene-Central het hy die klub in vyf jaar tot in Superliga B gevat. Met so iemand aan die stuur van sake by VDE kan die klub net groter hoogtes bereik en ek staan 100% agter die bestuurspanne wat nou by die klub is,” sê Williams.

Selwyn Ruiters, die eerstespankaptein, het die spelers en die bestuur lof toegeswaai.

“As kaptein voel ek en die span goed omdat ons die liga gewen het, en dis verblydend om te sien al ons harde werk van die helfte van die jaar het vrugte afgewerp en ons kon daardie vrugte nou pluk. Ons sukses kan toegeskryf word aan die feit dat almal ingekoop het in die planne vir die jaar. Aan die begin van die seisoen het ons besluit ons gaan die noordelike liga wen en ek dink die ervaring van die voormalige superligaspelers het ook ’n bydrae gelewer, hoewel aanpassings van alle spelers verwag en verkry is. Ek wil net sê – welgedaan aan die spelers en die bestuur,” sê Ruiters.

Albert Hensen sê die tweede span se sukses is te danke aan die groep van meer as 30 spelers, wat die kern van VDE se drie spanne in 2019 was.

“Voorheen was spelers verseker van ’n plek in die drie spanne, maar vanjaar moes elke speler alles gee om die eerste keuse te wees. Aangesien ons reeds drie jaar saam speel, ken ons mekaar se spel, en toe Desmond Houston, ons afrigter, aan die begin van die seisoen sê ons gaan vanjaar ’n groepstelsel volg en jy sal moet speel vir ’n plek in die span, het almal geweet jy sal in elke oefening en ligawedstryd meer as 100% moet gee as jy in die beginspan wil wees. Ons het vanjaar ook diepte in elke posisie en Houston het almal in die groep speelkans gegee om die bestes te laat begin. Elkeen in die groep het geweet die speler wat in jou nek blaas, gaan jou op jou tone hou, want elkeen wil begin,” sê Hensen.

VDE het vanjaar aanwinste uit Kraaifontein gekry en die afrigters het koppe bymekaar gesit om die beste uit elke speler te haal tot voordeel van die klub.

VDE wag nou om te sien watter ander agt spanne Saterdag 23 Julie aan die Top-9 gaan deelneem. Die Top-9 bestaan uit die drie spanne wat bo eindig in die noordelike, suidelike en stadsliga en die twee spanne wat in die Top-9 eerste en tweede eindig, skuif outomaties op na Superliga C, terwyl die spanne wat derde en vierde in die Top-9 eindig, sake sal uitspook om die derde span te word wat by die ander twee in Superliga C aansluit.

Spanne in al drie ligas is nog besig om hul ligaverpligtinge na te kom ná die Maand van Ramadan, waarin Moslem-klubs geen wedstryde gespeel het nie.

Die spanne wat aan die Top-9 gaan deelneem, sal teen Saterdag 16 Julie bekend wees voordat die kompetisie Saterdag 23 Julie afskop.

You need to be Logged In to leave a comment.