Avril Fillies
Twee spanne van Pniël Villagers, die o.20- en tweede span, is vanjaar se kampioene in hul onderskeie afdelings van Superliga C, nadat hulle Saterdag 16 Augustus teen Atlantis tuis kragte gemeet het.
Al vier spanne het die seisoen met vier bonuspunte geëindig en speel in die topses-kompetisie, wat volgende Saterdag (6 September) op City Park in Athlone met die kwarteindstryde begin.
Saterdag 16 Augustus is beslis ‘n dag vir Pniël Villagers om te onthou, want al vier spanne moes al hul vaardighede ten toon stel om Atlantis in toom te hou.
Die o.20-span het geskiedenis gemaak deur ál sy wedstryde van die seisoen te wen – ‘n 100% wenrekord – en het ná ‘n spanningsvolle oorwinning van 17-12 as die kampioen van die WP Superliga C uit die stryd getree.
Die derde span wou nie dat die o.20’s hom oorskadu nie en het ‘n goeie seisoen agter die rug. Hy het tweede geëindig, nadat hy verlede jaar die kampioen was. Hy het Atlantis met 22-7 geklop.

Die tweede span het sy oorheersing in die liga bevestig deur ook as Superliga C-kampioen gekroon te word, ná ‘n indrukwekkende 34-5 oorwinning oor Atlantis.
Die eerste span het in ‘n kragmeting wat die deurslag sou gee oor wie tussen Pniël Villagers en Atlantis die topses sou haal, sy staal getoon. In ‘n opwindende wedstryd op ‘n nat veld het Villagers die knoop deurgehak en Atlantis met 34-22 verslaan.
Die halftydtelling was 24-15 in Pniël se guns. Ondanks sterk weerstand van Atlantis het die Pniëllers vasgebyt en volgehou met puik spel.
“Die bestuur is baie trots op die spanne, veral die twee kampioene. Die sukses kan toegeskryf word aan toewyding en gees. Dis ‘n bewys van die klub se groei en karakter. Met dié oorwinnings agter die rug kyk Pniël Villagers nou met vertroue vorentoe, na die topses-uitspeelrondes. Sterkte aan al ons spanne – Die Pniël- en Dwarsrivier-gemeenskap is trots op julle,” sê Winston Stubbs, klubvoorsitter.



You must be logged in to post a comment.