Die Klapmuts-polisie het twee mans in hegtenis geneem toe hulle glo Dinsdag 28 November omstreeks 23:30 op die spoorlyn tussen Klapmuts en Muldersvlei in besit van vermeende gesteelde koper in betrap is. Veiligheidspersoneel met hommeltuigtegnologie om die spoorlyne te monitor om sodoende infrastruktuurskade en diefstal hok te slaan, het saam met die Klapmuts-polisie opgetree en ses verdagtes op die Ou Paarlpad tussen Muldersvlei en Klapmuts opgespoor toe die hommeltuigoperateur onraad bemerk het. Twee van die ses verdagtes, onderskeidelik 47 en 33 jaar oud, is in besit van Transnet-koperkabels ter waarde van R250 000, gevind en in hegtenis geneem. Hulle het op aanklag van diefstal in die Stellenbosch-landdroshof verskyn. Die ander vier verdagtes, wat na bewering deel van ’n sindikaat is, is steeds op vrye voet.