Die Stellenbosch-polisie ondersoek twee sake van moord nadat twee lyke vandeesweek in afsonderlike voorvalle in die Stellenbosch-omgewing gevind is.

Die liggaam van ’n 40-jarige man is Woensdagmiddag (18 Januarie) in ’n sloot oorkant Blaauklippen-plaas op die R44 gevind.

Die Stellenbosch-polisie het bevestig dat die lyk, met meswonde aan die bors en maag, omstreeks 14:00 ontdek is. Dit kom etlike dae nadat die liggaam van ’n Uber-bestuurder, ook met meswonde aan die liggaam, Vrydag (13 Januarie) op die Elsenburgpad naby Muldersvlei gevind is.

“Die oorledene wie se liggaam op die R44 ontdek is, is Dinsdag (17 Januarie) laas deur sy familie in Jamestown gesien,” het polisiewoorvoerder, kaptein Nathalie Martin gesê.

Geen verdagtes is nog in verband met dié dood in hegtenis geneem nie. Enigeen met inligting oor die voorval kan die polisie by 021 809 5015 bel.

Martin sê die liggaam van die Uber-bestuurder is Vrydag omstreeks 18:15 deur ’n pendelaar langs die Muldersvlei-/Elsenburgpad ontdek.

“Met die polisie se aankoms op die toneel is die oorledene met meswonde aan die bors en nek gevind. Die oorledene se motor is die volgende dag (14 Januarie) in Cloetesville opgespoor, waar daar ook vasgestel is dat die oorledene ’n Uber-bestuurder was,” sê Martin.

Met verdere ondersoek deur AO Steven Adams is twee manlike verdagtes (26 en 42 jaar oud) Dinsdag (17 Januarie) 15:46 in hegtenis geneem. Nog drie verdagtes, in die ouderdomme van 28, 30 en 34 is Woensdag 18 Januarie in hegtenis geneem. Die vyf verdagtes het vandag (19 Januarie) in die hof verskyn op aanklagtes van moord, motorkaping, roof en ontvoering. Die saak is tot 26 Januarie uitgestel vir borgtogaansoek. Die verdagtes bly steeds in aanhouding.

Die polisie maan Uber-bestuurders om asseblief versigtig te wees wanneer hulle oproepe ontvang.

You need to be Logged In to leave a comment.