Tia Bruwer en Augusta-Mari Dercksen is reeds van kleintyd af beste maats en nou is hulle as die Hoër Meisieskool Bloemhof se nuwe hoofleiers aangewys.
“Ek weet nie vir wie was ek blyer nie – vir my, vir Augusta of vir ons twee saam,” sê Tia, wat tydens die skool se jaarlikse inhuldigingseremonie op 23 September gehoor het sy is 2020-’21 se nuwe hoofmeisie. Augusta-Mari is as die onderhoofmeisie aangewys.
Tia en Augusta-Mari ken mekaar al van “die dag dat ek my oë oopgemaak het – saam het ons leer sit, kruip en lees”, sê Tia. “My hart loop oor van dankbaarheid en trots. Hierdie jaar is dit alles vir Bloemhof, dít belowe ek!”
Vir Augusta-Mari is dit “soos ’n droom wat waar geword het” om een van die skool se hoofleiers te wees. “En dit saam met iemand wat al vir 17 jaar deur dik en dun ’n kleintyd-maatjie, ’n vriendin en vertroueling is.” Sy sê sy sien uit om die HMS Bloemhof op hierdie manier saam met Tia te dien.
Huis Bloemhof, die skoolkoshuis, se hoofleiers is ook voorverlede week aangekondig. Zara van der Westhuizen is die nuwe hoofmeisie en Cleoni Esterhuys die nuwe onderhoofmeisie.