Twee mans is Donderdagoggend (22 September) in Dirkie-Uysstraat, Franschhoek, in hegtenis geneem nadat hulle met 5 461 krewe en kreefsterte gevang is.
Sers. Marize Mentoor, ’n woordvoerder van die Franschhoek-polisie, het aan Eikestadnuus bevestig polisielede het om 07:30 tydens die oggendskof ’n leidraad van ’n lid van die publiek ontvang.
“Ons is ingelig dat ’n voertuig wat ’n vrag kreef vervoer, van die Franschhoek-pas na Kaapstad onderweg is. Die lede was toe op die uitkyk vir die verdagte voertuig, ’n silwer Toyota Yaris, en het die motor agternagesit toe die verdagtes reg voor die polisiekantoor verbygery het,” verduidelik Mentoor.
Die polisiemanne wat met die groot vonds spog, skat dit het ’n straatwaarde van sowat R436 880.
Mentoor sê tot dusver is twee verdagtes, onderskeidelik 29 en 21 jaar oud, in hegtenis geneem.
“Die verdagtes sal by die Franschhoek-polisiekantoor aangehou word totdat hulle Vrydag in die Paarl-landdroshof verskyn.”