Leerders word genooi om vir vanjaar se Huisgenoot Eisteddfod in te skryf.


Die Huisgenoot Eisteddfod is terug vir ’n derde keer en vanjaar spog die kompetisie nie net met vier afdelings nie, maar ses.

Leerders wat lief is vir dans en skoolkore kan ook nou deelneem. Leerders kan ook, soos vorige jare, in die afdelings vir prosa, poësie, sang en redenaars inskryf.

“Ons is ontsettend opgewonde oor die twee nuwe afdelings wat vanjaar deel is van ons eisteddfod en die nuwe geleenthede wat dit vir skoolleerders bied,” sê Yvonne Beyers, Huisgenoot-redakteur.

“Die wonderlike ding van hierdie kompetisie is die feit dat leerders van reg oor die land kans kry om aan ’n nasionale eisteddfod deel te neem, maak nie saak of hulle in ’n groot stad of op ’n plaas woon nie. Boonop kry hulle kans om by van die beste vermaakkunstenaars en kenners in die bedryf te leer,” sê Charlea Sieberhagen-Grey, Huisgenoot se redakteur van spesiale projekte.

Hoe werk dit?

Besoek Huisgenoot se spesiale eisteddfod-webblad eisteddfod.huisgenoot.com of huisgenoot.com om vir die aanlyn eisteddfod in te skryf.

Elke deelnemer kan kies vir watter afdeling hulle wil inskryf – prosa, poësie, sang, redenaars of dans. Skoolkore kan ook inskryf. Daarna kry hulle toegang tot ’n spesiale, eksklusiewe meesterklas vir daardie afdeling. Elke meesterklas is sowat 45 tot 60 minute lank.

In die meesterklasvideo deel ’n professionele akteur, sanger of aanbieder, praktiese raad en wenke om die deelnemers te help om vir hul optrede voor te berei. Leerders kan die video’s oor en oor kyk.

Dan is dit tyd vir aksie. Deel ’n video-opname van jou optrede op die Huisgenoot Eisteddfod-webtuiste. In die jou video moet jy in Afrikaans ’n liedjie sing, ’n gedig voordra, ’n stuk prosa dramatiseer of as redenaar jou toespraak gee. Deelnemers in die dans-afdeling kan ’n dans van hul keuse op ’n liedjie van hul keuse doen.

Kore wat inskryf moet twee liedjies sing. Een van die twee liedjies moet in Afrikaans wees. Een van die twee liedjies moet sonder begeleiding wees en een van die twee liedjies moet ’n formeel gekomponeerde lied wees, byvoorbeeld ’n lied uit ’n gesangeboek. Die bladmusiek moet na eisteddfod@huisgenoot.com gestuur word.

Pryse en toekennings

Deelnemers kwalifiseer vir toekenningsertifikate gegrond op meriete: goud, silwer of brons.

Kategoriewenners van die afdelings prosa, poësie, sang, redenaars en dans, word bekroon met ’n gesogte rooi-sertifikaat en kan met ’n kontantprys van R1 500 wegstap, geborg deur afrikaans.com. Wenners in die koor-afdelings, wen R5 000 per koor, geborg deur afrikaans.com.

Deelnemers wat toekennings ontvang, kry ook erkenning in Huisgenoot of by huisgenoot.com.

Op soek na Eisteddfod-ster

Net soos die vorige twee jare, word een groot wenner aangewys as die Huisgenoot Eisteddfod-ster van die jaar. Dié toekenning beteken ’n kontantprys van R10 000, geborg deur afrikaans.com en gaan aan die een deelnemer wat die beoordelaars se aandag getrek het, die een wat geskitter het en bo al die ander inskrywings uitgestaan het. In 2022 het Luca Human met die prys weggestap en verlede jaar was Judi Hattingh die wenner.

Beoordelaars

Die aanbieders van die meesterklasse is ook die beoordelingspaneel van die eisteddfod. Vanjaar sal twee nuwe beoordelaars – Natasha van der Merwe en Leon Starker – ook hul afdeling se meesterklas aanbied.

In die meesterklasvideo’s verduidelik elke beoordelaar waarna hulle sal kyk wanneer hulle jou optrede beoordeel. Hulle gee praktiese wenke oor hoe jy die spesifieke afdeling moet aanpak as jy so goed moontlik wil vaar.

Die beoordelaars en aanbieders van die ander meesterklasse is Roeline Daneel (prosa), Frieda van den Heever (poësie), Lynnelle Kenned (sang) en Sue Pyler-Slabbert (redenaars).

Inskrywings vir die derde Huisgenoot Eisteddfod sluit om 17:00 Donderdag 8 Augustus.

  • Vir meer inligting, stuur ’n e-pos na eisteddfod@huisgenoot.com of charlea.grey@huisgenoot.com.

You need to be Logged In to leave a comment.