Die nuwe laer- en hoërskool in Klapmuts word vir eers in tydelike strukture gehuisves.

Credit: SYSTEM

Twee nuwe tydelike skole – ’n laerskool en ’n hoërskool – in Klapmuts het vandeesweek die eerste keer hul deure geopen en leerders vir onderrig verwelkom.

Volgens Bronagh Hammond, ’n woordvoerder van die provinsiale onderwysdepartment, is die skole ingevolge die departement se buitengewone bouprogram opgerig. Die program mik daarna om sowat 842 bykomende klaskamers te bou, wat dan minstens 26 000 nuwe plekke by skole vir leerders in die provinsie sal bied.

Hammond het voorheen aan Eikestanuus bevestig dat die departement genoodsaak was om dié twee skole op te rig. Die rede hiervoor is omdat ’n toenemende vraag na skoolplasing vir leerders om in isiXhosa onderrig te word, as gevolg van die dorp se vinnige residensiële uitbreiding ontstaan het.

Die mobiele skole is ook net tydelik opgerig totdat baksteengeboue opgerig kan word.

“Dit gee die departement tyd om behoorlike permanente baksteenskole vir die kinders te bou,” het Hammond gesê.

isiXhosa-leerders moes voorheen na naburige dorpe soos Paarl, Kraaifontein en Khayamandi vervoer word om onderrig te kry.

Die twee skole staan bekend as Klapmuts nr. 2 Primêre Skool en Hoërskool Klapmuts. Die laerskool kon net 240 leerders tussen gr. 1 en gr. 3 verwelkom, en die hoërskool tot 330 leerders in gr. 8 en gr. 9.

’n Tussentydse skoolbeheerliggaam is aangestel om albei skole te bestuur totdat ’n verkiesing later vanjaar gehou sal word.

You need to be Logged In to leave a comment.