Die slagoffer se voertuig is na Franschhoek-polisiekantoor geneem nadat in Maitland daarop beslag gelê is toe die polisie leidrade in verband met die misdaad opgevolg het.


Twee van die vyf verdagtes is aangekeer kort nadat hulle na bewering die eienaar van die Gabriere-plaashuis in Franschhoek op 25 Mei beroof het.

Die twee verdagtes, Mabongwe Gezi (33) en Jeremy Mathemba (36), sal Vrydag vir die tweede keer in die Paarl-landdroshof om borgtog aansoek doen.

Dit kom nadat die Gabriere-plaas in Franschhoek deur vyf gewapende mans, glo op soek na werk, beroof is. Die eienaar, huisvrou en huishulp is na bewering in die voorval aangerand.

Die voorval het Woensdag om 08:29 plaasgevind.

Bronne het aan die Franschhoek-polisie verduidelik dat vier van die verdagtes aan die huis se agterdeur geklop en glo vir die eienaar gevra het of daar vir hulle werk is.

“Toe die eienaar hulle inlig dat daar geen werk beskikbaar is nie, het die mans hulself by die deur ingedwing en die eienaar begin aanrand. Hulle het op die huis se kluissleutels, geld en die sleutels van ’n motor in die motorhuis aangedring,” verduidelik die stasiebevelvoerder, kol. Frederick Rossouw.

“Die eienaar het daarin geslaag om die noodsein van sy alarmstelsel te aktiveer terwyl die verdagtes die huisvrou en huishulp op ’n slaapkamer se bed gegooi en aangedring het om die kluis oop te sluit.”

Die eienaar het ’n kluis, wat glo ’n speelgoedgeweer in gehad het, aan die verdagtes oorhandig. Die verdagtes het na bewering van die toneel gevlug en het met die kluis, ’n selfoon en die voertuig weggekom.

“Terwyl die Pepler Alarms-veiligheidsmaatskappy op pad na die plaas was, het hulle die verdagtes in Huguenot-pad, uit die plaas se rigting, gewaar. Hulle het kort daarna die verdagte voertuig in Hoofstraat afgetrek waarna drie verdagtes in ’n ander voertuig gespring en weggejaag het,” verduidelik Rossouw.

In samewerking met wetstoepassers en polisiebeamptes is een van die verdagtes naby Absa-bank in die Hoofstraat vasgetrek, gevolg deur ’n tweede verdagte wat in Wilhelminastraat aangekeer is.

Daar is op ’n kluis, wat in die voorval gesteel is, beslag gelê.

Die slagoffer se voertuig is na Franschhoek-polisiekantoor geneem nadat in Maitland daarop beslag gelê is toe die polisie leidrade in verband met die misdaad opgevolg het.

’n Vuurwapen, waarvan die reeksnommer afgeskuur was, is ook op beslag gelê. Die slagoffers het geen sigbare beserings opgedoen nie.

You need to be Logged In to leave a comment.