Die tugverhoor van die Universiteit Stellenbosch-student Theuns du Toit het verlede Woensdag ’n dramatiese wending geneem toe die slagoffer, Babalo Ndwayana, by die verhoor uitgestap het.
Du Toit word deur tugstappe in die gesig gestaar nadat hy verlede maand in die vroeë oggendure van 15 Mei glo op die studiemateriaal van Ndwayana geürineer het. Die voorval is op video vasgevang en het soos ’n veldbrand op sosiale media versprei.
Die studenteorganisasie Sasco het die voorval as “rassisties” beskryf en het mense in rep en roer gehad. Die US het in reaksie gesê hy veroordeel rassisme ten sterkste.
“Die US veroordeel enige vorm van rassisme, diskriminasie of enige ander vooroordeel ten sterkste. Daar is geen plek vir rassisme of viktimisering van enige aard by die US nie.”
Volgens Ndwayana se regspan, gelei deur Nomonde Gxilishe, wat verbonde is aan die Unisa-regskliniek, het Ndwayana verlede Woensdag die tugverhoor verlaat omdat die paneel volgens hom nie “objektief’’ is nie.
“Daar was elemente van vooroordeel en ’n gebrek aan objektiwiteit. Daarom gaan ons die universiteit nader en versoek vir die hersamestelling van die paneel en dat dit ’n eksterne paneel moet wees.”
Die US-woordvoerder Martin Viljoen het aan Eikestadnuus gesê die verhoor het steeds voortgegaan en dat die paneel “onafhanklik” is.
“Die Sentrale Dissiplinêre Komitee-paneel (SDK) bestaan uit betroubare en kundige lede met relevante senior regs- en ander kundigheid. Die SDK se lede word gekies uit die paneel vir die onafhanklike tugkomitee, en volgens die kode bestaan die SDK uit ’n voorsitter en drie bykomende lede van die SDK-paneel, van wie minstens een persoon ’n studente-benoemde is.”
Viljoen wou nie verder uitbrei oor ’n moontlike hersamestelling van die paneel nie, maar het gesê die tugverhoor het verlede Donderdag gesluit.
“Die verhoor is Donderdag afgesluit met slotbetoë wat namens die Universiteit en Du Toit gevoer is. Die SDK het Donderdagmiddag aangedui dat weens die kompleksiteit van die saak en die hoeveelheid bewyse wat oorweeg moet word, hulle nog nie ’n uitkoms kan gee nie. Hulle sal tyd neem om die bewyse te oorweeg en ’n skriftelike uitkoms te verskaf.” Volgens Viljoen is daar nog geen datum bepaal oor die uitkoms van die tugverhoor nie.
Nadat Ndwayana die tugverhoor verlaat het, is die onmiddellike inhegtenisnemings van Du Toit by die Stellenbosch-polisie geëis. Ndwayana het verlede maand klagte van huisbraak, crimen injuria, opsetlike saakbeskadiging en rassisme by dieselfde polisiekantoor ingedien.
Gxilishe het haar kommer in ’n video-verklaring uitgespreek. “Die siening van Babalo is tans: Dit lyk of die polisie hierdie soort optrede deur die verdagte laat voortduur. Waar as dit iemand anders van ’n ander ras was, sou dit moontlik op ’n ander manier voortgegaan het. Hy is dus nie tevrede met die vordering wat met die saak gemaak is nie.”
Die Stellenbosch-polisie het by navraag aan Eikestadnuus gesê niemand is in hegtenis geneem nie en dat die saak verlede Vrydag na die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) verwys is.
Die NVG het teen druktyd nog nie op navrae van Eikestadnuus gereageer nie.