Die Stellenbosch-munisipaliteit het die afgelope week ’n beroep op die Nasionale Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur (NDOWI) gedoen om aandag aan ’n geskiedkundige gebou in die sakekern van Stellenbosch te gee.
Gesie van Deventer, die Stellenbosch-burgemeester, het in ’n verklaring gesê sy doen ’n beroep op Patricia de Lille, die minister, om nou haar beloftes na te kom en op te tree.
“Die eiendom in Markstraat 18 staan al jare leeg en is verwaarloos. Die gebou en erf is nie net heeltemal vervalle nie, maar die berugte eiendom lok ook baie onwettige bedrywighede. Dit hou ’n groot veiligheidsgevaar vir ons inwoners in en iets waarvoor ons eenvoudig nie meer kan staan nie,” het Van Deventer gesê.
Lede van die Stellenbosch- munisipale wetstoepassing en Rikus Badenhorst, die burgemeesterskomiteelid vir beskermingsdienste, het Woensdag 26 Januarie nog ’n optrede op die perseel by Markstraat 18 uitgevoer.
“Die munisipaliteit het herhaaldelik met die departement oor hierdie eiendom in gesprek getree, kennisgewings is op die eiendom uitgereik ingevolge die munisipaliteit se probleemeiendomsregulasies en gereelde wetstoepassingsoptredes word op die perseel uitgevoer om misdadigers en dwelmhandelaars uit die gebou te hou.
“Die kwessie oor Markstraat 18 is selfs na die nasionale parlement geneem, waar ’n parlementêre vraag aan die minister gestel is,” voeg Van Deventer by.
Van Deventer sê die munisipaliteit is daartoe in staat – en gewillig – om eienaarskap van die gebou oor te neem en om dit in ’n veilige en bruikbare ruimte tot voordeel van die gemeenskap om te skep.
“Ons kan eenvoudig nie voortgaan om ons beperkte hulpbronne en mannekrag te gebruik om misdadige aktiwiteite, wat ’n direkte gevolg is van die departement se gebrek aan optrede, te polisieer nie.”
Volgens De Lille weet die departement van die verklaring wat deur Van Deventer uitgereik is en is sy bewus van die kwessies rakende die eiendom wat die departement besit.
“Die residensiële eiendom in Markstraat is voorheen aan die Suid-Afrikaanse Polisiedienste (SAPD) vir amptelike woondoeleindes toegewys. Dit is sedertdien ontruim en is in Augustus 2014 aan die departement teruggegee,” sê De Lille.
“Ongelukkig is die eiendom erg gevandaliseer en word dit sedert laat 2019 onwettig deur 20 bewoners beset. Gevolglik hou dit gevaar vir die naburige perseel en die gemeenskap in die algemeen in,” voeg sy by.
Volgens haar (De Lille) het die departement se Kaapstadse streekkantoor ’n aantal klagtes van die omliggende eienaars ontvang oor die slegte toestand van die eiendom omdat dit nie aan die minimum gesondheids- en veiligheidsregulasies en verordeninge van die plaaslike munisipaliteit voldoen nie.
Inwoners meld ook dat die besetters en ander rondlopers die bure op ’n gereelde grondslag dreig en ook misdadige aktiwiteite op die perseel bedryf.V Na bladsy 2