Spaar jouself baie hartseer deur vinnig op te tree wanneer jong kinders tekens van diarree-siekte toon.
Tussen November 2018 en Mei 2019 het verskeie kinders wat jonger as vyf jaar oud is, tuis gesterf weens diarree-siekte in die Kaapse Wynland Distrik. Diarree-siekte kan voorkom word, luidens ’n verklaring deur Sandra Maritz, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement.
Tydens die somer kry kinders jonger as vyf dikwels diarree, ontwatering en longontsteking. Versorgers kan sterftes voorkom deur gou hulp te kry wanneer kinders simptome van diarree-siekte toon.
“Diarree is ’n hoogs aansteeklike virus wat floreer in warm weer. Dit kan ook deur vlieë oorgedra word en veral babas en kinders kan dit maklik kry. Kinders wat ondervoed is, diegene wat nie geïmmuniseer is nie en dalk ander onderliggende siektes het, is meer geneig om diarree en komplikasies op te doen as die korrekte higiëne-praktyke nie gevolg word nie. Die areas wat die meeste geraak word tydens hierdie tydperk is daardie met swak infrastruktuur en tekort aan skoon water en sanitasie,” sê professor Hassan Mahomed, spesialis in openbare gesondheidsgeneeskunde.
Tekens van diarree:
• Maagpyn of maagkrampe
• Naarheid en braking
• Los of waterige stoelgange vir meer as drie keer ’n dag
• Koors
Die afgelope vier jaar is daar ’n afname in die hoeveelheid kinders was wat weens diarree-siekte by klinieke en gemeenskapsdagsentrums in die Kaapse Wynland (Breedevallei, Drakenstein, Langeberg, Stellenbosch en Witzenberg) hulp gesoek het.
Die proaktiewe benadering wat gesondheidswerkers in die gemeenskap het tot die bestuur van kinders wat tekens van diarree-siekte het, het daartoe gelei dat minder kinders wie diarree het, ontwater is teen die tyd wat hulle mediese hulp soek. Daar wel ’n toename in die hoeveelheid kinders in die Breede Vallei en Langeberg wie aangemeld het weens longontsteking.
“Oor die afgelope vyf jaar kon die Wes-Kaapse Regering Gesondheid die aantal sterftes wat met diarree verband hou in die provinsie verminder. Ouers of versorgers word egter aangemoedig om gedurende die somerseisoen waaksaam te wees en hulle moet goeie higiëne-praktyke in hul huis en vakansie-omgewing aanmoedig,” sê die Wes-Kaapse LUR vir gesondheid, dr. Nomafrench Mbombo.
Hoe om diarree te voorkom:
• Gebruik skoon water
• Immuniseer alle kinders, veral teen die rotavirus
• Hou kos en water skoon
• Was jou hande met seep (die baba se hande ook) voor jy aan kos raak
• Wanneer jy borsvoed en jou kind jonger as ses maande is, moenie vir jou kind ander kos ook gee nie.
Indien jou kind diarree het, gebruik die tuisgemaakte suiker-sout-oplossing in die eerste 24 uur om te voorkom dat hy ontwater. Indien jou kind nie beter word nie, gaan onmiddellik na jou naaste kliniek of hospitaal.
Belangrik! As jou kind enige van hierdie tekens van ontwatering toon, neem hulle onmiddellik na die naaste gesondheidsfasiliteit of bel ’n ambulans op 10177:
• Braking (kan nie vaste stowwe of vloeistowwe inhou nie)
• Kan nie borsvoed nie
• Stuipe
• Lusteloosheid of depressiewe bewussynsvlak
• Diarree met hol oë en ’n ingevalde kop (fontanel)
• Diarree met bloed in die ontlasting
• Bors wat ingeduik is (bors trek in met asemhaling)
• Die kind hoes en vinnig asemhaal
• Is jonger as 2 maande, het ’n koors en wil nie soos altyd drink tydens voedings nie