Inskrywings vir die 2022- FNB- Sauvignon Blanc- SA Top-10-kompetisie, die enigste kompetisie in die land wat aan sauvignon blanc toegewy is, is nou oop.
Die kultivarorganisasie Sauvignon Blanc Suid-Afrika bied hierdie gesaghebbende kompetisie vanjaar die sestiende keer aan.
Volgens die Sauvignon Blanc SA voorsitter, RJ Botha, vervul die kompetisie ’n belangrike rol om die beeld van sauvignon blanc, die topverkoper-variëteit in die land, te bevorder.
“Ons is opgewonde, want die wêreld begin om Suid-Afrika as een van die beste sauvignon blanc- produserende lande te beskou. Suid-Afrika se voordeel is dat ons sauvignon blanc in ’n ongelooflike verskeidenheid style maak, wat baie uniek is aan sekere dele in die land.
Diversiteit in oorsprong en vernuwing in styl en geurprofiele is iets wat jaarliks in ons Top-10-kompetisie uitstaan. Verder het dit ook die potensiaal van ouer oesjare en meer gehoute wyne om mee rekening te hou.”
Botha sê die kultivarorganisasie daag alle groot én klein produsente uit om vir hierdie geleentheid in te skryf om hul wyne teen ander sauvignon blanc-wyne in die land te meet.
“Ons sien daarna uit om vorige presteerders én nuwe handelsmerke om ’n 2022-FNB- Sauvignon Blanc- SA Top-10-toekenning te laat meeding. Hierdie toppunt van erkenning vir uitblinkergehalte is uiters waardevol in die bemarkingswaarde van individuele wyne. Ons is dankbaar vir die ondersteuning van ons Top-10-titelvennoot FNB en ons platinumvennoot EVER Solutions, wat dit moontlik maak om vanjaar weer die beste wyne van Suid-Afrika se gewildste kultivar te bepaal.”
Produsente en kelders kan aanlyn vir die kompetisie op Sauvignon Blanc SA se webwerf by www.sauvignonblanc.com/top10-entry inskryf. Lede kan gedurende die eerste week (tot Maandag 1 Augustus 2022) teen ’n spesiale doutrapper-fooi (“early bird”) inskryf.
Inskrywings sluit Dinsdag 16 Augustus, met laat inskrywings wat tot Woensdag 24 Augustus 2022 aanvaar word.
’n Paneel vooraanstaande wynkenners, met die Kaapse wynmeester dr. Winifred Bowman as sameroeper, sal die aanspraakmakers van Dinsdag 30 Augustus tot Donderdag 1 September by die Uitkyk-landgoed in Stellenbosch beoordeel. Saam met dr. Bowman op die paneel is die wynbeoordelaar en -skrywer Fiona McDonald, Johann Fourie (hoofwynmaker van Benguela Cove), die wynmaker Morgan Steyn van De Grendel, die Kaapse wynmeester René Groenewald asook twee aspirantbeoordelaars.
Die 20 finaliste sal in September aangekondig word, terwyl die Top-10-wenners Donderdag 13 Oktober by die FNB- Sauvignon Blanc SA- Top-10-prysuitdeling bekend gemaak sal word.
Enigeen kan ’n lid van Sauvignon Blanc SA word om die voordele van gedeelde kundigheid te geniet.
Vir meer inligting, of om in te teken op ’n gereelde nuusbrief, besoek www.sauvignonblanc.com, skakel 021 975 4440 of stuur ’n e-pos-boodskap na reinette@sauvignonblanc.com.