Hoërskool Stellenbosch vier vanjaar sy 50ste verjaardag op ’n hoë musikale noot met die musiekblyspel Tydloos.
Tydloos neem die gehoor op ’n reis van die skool se 50 jaar van 1968, toe dit as ’n handelskool begin het, tot vandag waar dit een van die bekendste skole in die streek is.
“Dit gaan deur al die dekades en fokus op die ouers, leerders of onderwysers van die tyd,” sê Xander Kritzinger, koördineerder van die produksie. Die kern van die storie is die simboliek van die tikmasjien wat “tydloosheid” verteenwoordig. Toe die skool in 1968 as ’n handelskool gestig is, het dit hoofsaaklik tiksters en sekretaresses opgelewer. Volgens Kritzinger was daar om hierdie rede altyd diegene wat in daardie tyd neergekyk het op die skool. Vandag het die skool hierdie “stigma” verbreek deur een van die topskole in die Wes-Kaap te word en het hierdie deel van sy geskiedenis omhels.
“Hoe meer ons verander, hoe meer bly ons dieselfde,” sê Kritzinger voorts oor die simboliek van die tikmasjien. Die produksie fokus ook op die skool se waardes en filosofie. “Dit gaan daaroor om verhoudings met die leerders te bou en om hulle as jong volwassenes eerder as kinders te gedra. Ons vestig waardes soos selfdissipline eerder as reëls,” vertel Kritzinger wat vir die afgelope 10 jaar as sang- en musiekonderwyser by die skool werk.
Die blyspel is ’n ware groeppoging met 300 uit die skool se ongeveer 600 leerders wat daarin te sien is. “Dit was nogal uitdagend om met al die los draadjies (dans, toneel en musiek) by te hou,” volgens Kritzinger wat ook die musiekdirekteur, koormeester en sangafrigter van die produksie is.
Die gehoor kan uitsien na musiek uit elke dekade van die skool se bestaan insluitend musiek van ABBA, Queen en die Voëlvry-beweging. Die musiek word regdeur met die skoollied verbind. “Dit eindig met ’n grand finale,” sê hy.
Die teks is deur André Gerber en die regie deur Ian van der Weshuizen behartig.
V Tydloos is van 21 tot 23 Augustus by Hoërskool Stellenbosch te sien. Vir kaartjies besoek: http://qkt.io/TYDLOOS.