Sr. Sue-Ellen du Plessis, Chenia Poole (arbeidsterapeut), sr. Madeleine Johnstone (professionele verpleegkundige), sr. Liesll Soetland, Susan Moses (maatskaplike werker), sr. Johanna Skippers, dr. Kirsten Whitlock en dr. Hannelie Williams-Walton. Sr. Zibongiwe Mlonyeni was afwesig toe die foto geneem is.


’n Span gesondheidswerkers, wat veral oor mense se geestesgesondheid besorg is, het ’n plan beraam om hierdie dienste tot by behoeftige mense in Stellenbosch te bring.

In die geval van Geestesgesondheidsbewusmakingsmaand (Julie) wat pas afgeskop het, bedank die Wes-Kaapse regering se gesondheid- en welstandsdiens sy personeel in hierdie omgewing, wat bestaande ondersteuning aan kwesbare mense, soos ouer mense en mense met gestremdhede, volhou én daarop verbeter.

Die afgelope paar maande gaan gesondheidswerkers na vier organisasies om dienste in die gerief van hul eie omgewing aan hulle te lewer. Gevolglik is daar ook minder voete by gesondheidsfasiliteite in Stellenbosch, wat tot ’n meer positiewe ervaring lei vir mense wat wel die fasiliteite besoek.

“Aanvanklik het ons gereël dat die organisasies se inwoners op sekere dae na die Cloetesville-gemeenskapsdagsentrum kom,” sê dr. Lawson Eksteen, ’n huisarts van die departement, wat die uitreikaksie koördineer. “Ons het besef dat dit prakties makliker sal wees vir pasiënte as ons die dienste na hulle neem. Hulle het die gemak van hul eie omgewing, en ons kan meer mense op ’n keer help, omdat aktiwiteite soos die op- en aflaai van mense nie meer nodig is nie. Indien nodig kan die pasiënt steeds vir verdere dienste na ’n ander fasiliteit verwys word,” verduidelik hy.

Gesondheidswerkers het gevind mense met onderliggende mediese toestande, se gesondheid het tydens die Covid-19-pandemie verswak. Die uitreikaksies wat plaasvind na spesifieke organisasies, beteken dat hierdie kwesbare mense se gesondheidsbehoeftes vinniger onder die loep kom.

Die span, wat deel is van die uitreik, sluit kenners in soos Eksteen, wat veral op opleiding en die verbetering van die gehalte van geestesgesondheidsdienste, fokus, sowel as mediese beamptes en verpleegkundiges wat in geestesgesondheid spesialiseer, ’n kliniese sielkundige, ’n maatskaplike werker, ’n maatskaplike werker wat in geestesgesondheid spesialiseer, ’n arbeidsterapeut wat in geestesgesondheid spesialiseer en ’n psigiater van die Paarl-hospitaal.

Toenemende druk heers op geestesgesondheidsdienste reg oor die Wes-Kaap. Proaktiewe werk, soos die inisiatiewe van hierdie span in Stellenbosch, help mense om hul gesondheid te bestuur en kan die aantal mense wat dalk in die hospitaal opgeneem moet word, beperk.

You need to be Logged In to leave a comment.