Die Stellenbosch-munisipaliteit het Vrydagoggend (1 April) aangekondig hy is beveel om alle indringerbome in Victoriastraat te verwyder.
Dié aankondiging het vinnig gemengde reaksie uitgelok. Helaas was dit net ’n April-gekkedaggrappie van die munisipaliteit.
In die aankondiging op Facebook skryf die munisipaliteit hy is beveel om alle indringerbome in Victoriastraat te verwyder en verwys dan na ’n skakel vir die volledige verklaring. Die skakel neem jou egter na ’n aankondiging van die Visit Stellenbosch-projek saam met vroue van Khayamandi.
“Visit Stellenbosch werk saam met vroue in Khayamandi wat plastiekbroodsakkies in pragtige hergebruikte produkte hekel. Elke produk wat verkoop word, sal ’n gesin help om brood op die tafel te sit en net een hergebruikte produk neem talle plastieksakke uit ons riviere, oseane en stortingsterreine,” lui die verklaring.
Drie broodsakkies maak een fluitjiekoord (lanyard), sewe broodsakkies maak een waterbottelsak en 12 broodsakkies maak ’n wynsak.
Indien jy broodsakkies het om te skenk, gee dit asseblief af by die Stellenbosch-toerisme-besoekersentrum by Kerkstraat 47, Stellenbosch.
Inwoners het egter vinnig agter die kap van die byl gekom en lekker saam gelag.
“Julle het my sekerlik uitgevang … Ek was gereed om julle ’n mondvol te gee met een of twee oproepe, totdat ek die verklaring gelees het,” het Jason Jay Claasen geskryf.
Johann Fölscher Potgieter het geskryf hy het vir ’n oomblik gedink dit het iets met die boorkewers te doen. “Kom ons hoop dit word nie ’n werklikheid nie.”
“Julle het my!” het Tercia Stellenberg geskryf.
Die Stellenbosch-munisipaliteit raai inwoners aan om die projek tussen Visit Stellenbosch en die vroue van Khayamandi te ondersteun.