Die dirigent Johan de Villiers se terugkeer na die konsertverhoog sluit in twee uitvoerings van die Verdi Requiem as afsluiting van die 2023 Endler-konsertreeks in Stellenbosch.

De Villiers, wat die Universiteit Stellenbosch-koor van 1977 tot 1984 gedirigeer het, was daarna in 1989 die stigtingsdirigent van die Libertas-koor wat ná 33 jaar onder sy leiding verlede November vir die laaste keer opgetree het. Onder hom as dirigent, met ’n nagenoeg 100-sterk groep koorsangers bestaande uit meestal oud-Libertas-koorlede, tesame met die gevierde operasangers Hlengiwe Makhwanazi (sopraan), Minette du Toit-Pearce (mezzo-sopraan), Luvo Maranti (tenoor) en Conroy Scott (bariton), asook ’n orkes van 50 professionele instrumentaliste met konsertmeester Petri Salonen, gaan die klanke van die Italiaanse komponis Guiseppe Verdi se Requiem die Endlersaal vul.

Hierdie grootskaalse werk van 90 minute tel onder die mees geliefde oratoria uit alle tye en bied aan beide uitvoerder en gehoor ’n musikale belewenis om te koester. Die eerste uitvoering daarvan was in 1874 in Milaan, met Verdi self op die podium, en het saamgeval met die eerste herdenking van die Italiaanse skrywer Alessandro Manzoni se sterfdag.

Hierdie Verdi Requiem, ’n toonsetting van die standaard Latynse teks van die Katolieke dodemis, is trouens opgedra aan Manzoni, vir wie Verdi groot bewondering gekoester het. Verdi, wie se leeftyd van 1813 tot 1901 gestrek het, se roem as operakomponis is omvattend en groots. Die requiem het gevolg slegs drie jaar na die ekstatiese ontvangs van sy opera Aïda en is kenmerkend tot oorlopens gevul met lieflike melodieë en dramatiese opwellings.

De Villiers en al die kunstenaars “beskou dit as ’n enorme voorreg om hierdie magtige oratorio in die Endlersaal uit te voer”. Hy meen deelname daaraan, beide vir gehoor en uitvoerder, “beloof om ’n uitsonderlike musikale belewenis te wees”.

De Villiers was ook onlangs as dirigent van die produksie Van Mozart tot Verdi: Operahoogtepunte, wat benoem is vir ’n 2023 Toyoya US Woordfees trofee vir Beste Prestasie in Klassieke Musiek (Vokaal), te sien. Dieselfde wenspan soliste, onder andere Makhwanazi, Du Toit-Pearce, Scott, Maranti asook Salonen as konsertmeester wat saam met hom aan die uitvoering deelgeneem het, sal ook te sien wees.

Volgens Du Toit-Pearce is sy baie opgewonde om hierdie “monumentale werk” vir ’n tweede keer onder De Villiers se leiding te kan uitvoer en die verhoog te kan deel met soliste van die kaliber. “Die Verdi Requiem is vir my veral besonders omdat die mezzosopraan sulke ongelooflike oomblikke van musiek het om te sing,” sê sy.

Die twee uitvoerings vind Saterdag 18 en Sondag 19 November om 16:00 in die Endlersaal plaas. Kaartjies kos R280 elk en kan aanlyn deur Webtickets bespreek word.

Vir meer inligting, stuur ’n e-pos na concerts@sun.ac.za, skakel 021 808 2358 of besoek www.endler.sun.ac.za.

You need to be Logged In to leave a comment.