’n Uitstalling van die Dorpies van Stellenbosch is onlangs by die Stellenbosch Village Museum in Dorpstraat bekend gestel.
Die bekendstelling van die uitstalling is deur die Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, Anroux Marais, wat haar trots en vreugde oor die projek uitgespreek het, bygewoon.
“Hierdie is ’n besonderse uitstalling, een eie aan Stellenbosch, iets wat die gemeenskap in al sy diversiteit insluit. Dit is waaroor museums gaan, om die geskiedenis en die kultuur van die dorp en sy mense vas te vang,” het Marais gesê.
Die uitstalling is deur die kultuurhistorikus, museumkundige en erfeniskonsultant prof. Matilda Burden, ’n emeritus-professor aan die Universiteit Stellenbosch, saamgestel.
“ ’n Deurslaggewende vraag met ’n titel soos vir hierdie uitstalling, Die dorpies van Stellenbosch, is gewoonlik wat kwalifiseer as ’n dorpie, of hoekom is ons nie ook ingesluit nie? Dit het nie ’n maklike antwoord nie. e’Bosch het nou alreeds 14 dorpies van Stellenbosch geïdentifiseer, maar ons het ons bepaal by plekkies met ’n bestaande infrastruktuur van strate, huise, kerke, skole, en miskien ’n paar besighede. Ons het uitgekom by nege wat natuurlik ook Stellenbosch-Sentraal insluit. Dis ook die maksimum wat ons kon akkommodeer in die lokaal waar die uitstalling ingerig is. So mense moet maar asseblief nie te kwaad wees as hulle voel hulle het ’n dorpie en is nie by name ingesluit in die uitstalling nie,” het Burden gesê.
Burden sê sy het in die uitstalling gebruik gemaak van gewelontwerpe, nie omdat dit noodwendig tipies van ’n bepaalde dorpie is nie, maar omdat dit tipies is van Stellenbosch en die Wynlande. “U sal waarskynlik verbaas wees om te weet hoeveel van die gewels wel in die meeste van die dorpies voorkom. Dit verleen maar net ’n uniekheid aan die uitstalling wat deel vorm van die artistieke aanslag waarna enige uitstalling sekerlik behoort te streef. Ek gaan nie meer daaroor sê nie – u moet maar gaan kyk.
“Om nie enige dorpie op ’n onbeplande manier te bevoordeel nie, was die voor die hand liggende volgorde om hulle te plaas volgens die ontstaandatum, en daarná is die gewelontwerpe toegeken volgens waar dit die beste sou vertoon in die lokaal,” voeg sy by.
“ ’n Belangrike saak wat verduideliking verg, is die spelling van die naam van Khayamandi. Op baie tekens word die naam sonder ’n h gespel, dus “Kayamandi” en dit is wat baie mense as die korrekte spelling beskou. Ons het wel met die taalspesialiste en ook die ouer inwoners van Khayamandi gekontroleer, wat almal bevestig het dat dit met die h gespel word, daarom is besluit om die spelling in ooreenstemming te hou met die h.”