Roosterkoek, boetiekbier, skaapstertjies, wyn, Wagyu-burgers … al hierdie lekkertes en méér wag op Saterdag 12 en Sondag 13 Oktober 2019 by die derde Groot Plaasproe op die Sandringham-plaas buite Stellenbosch.
Dié bekroonde plaaservaring bied iets van alles van die plaaslewe vir die hele gesin – nie net is daar plaaskos, wyn, bier en gin te kies en te keur nie. Feesgangers kan meer as 300 plaasdiere van naby leer ken, lyndans op die maat van bekende kunstenaars én pryse wen deur hul eie burgers of braaibroodjies vir ’n kompetisie in te skryf.
Op Internasionale Pinotage-dag, Saterdag 12 Oktober, kan feesgangers Pinotage en van die beste biltong in die Boland proe saam met kenners van die Pinotage-vereniging en die Wellington-wynroete. Op Sondag 13 Oktober bied die wynroete ook ’n gratis proe van top-Shiraz uit dié distrik saam met wildsvleis aan.
Braai-entoesiaste kan inskryf vir Die Braai Crew se braaikompetisies – bou-’n-burger op Saterdag 12 Oktober en braaibroodjies op Sondag 13 Oktober. Inskrywings is gratis en deelnemers wat vooraf inskryf vir die kompetisies by www.diegrootplaasproe.co.za kry boonop gratis toegang tot die hele fees.
’n Groot Plaasproe-kaartjie sluit vermaak deur die Wildberries, Nic Stevens en die countrysanger Pieter Mohr in, asook lyndansvertonings en kompetisies. Daar is ook Wêreldbeker-rugby op die grootskerm. Kinders kan leer om stokbrood te maak, hul slag met toutrek wys en aan ’n roomyseet-kompetisie met heerlike pryse op die spel deelneem.
Feesgangers kan ook meer as 300 plaasdiere – van reuse-Percherons tót Alpacas ontmoet. Kinders kan ook hul konyne inskryf vir ’n troetelkonynskou, op ponies ry en selfies saam met skaars diere soos reusewitbees-Romagnolas neem. Nuut vanjaar is Arabierperd-vertonings wat beloof om skouspelagtig te wees.
Die fees vind daagliks van 09:00 tot 17:00 plaas. Kaartjies is by Computicket en die hek beskikbaar teen R120 vir volwassenes en R30 vir skoliere. Toegang vir kinders onder ses jaar is gratis.