Die voorsitter van die Universiteit Stellenbosch se raad, dr. Nicky Newton-King, sê die US-raad het vertroue in die rektor en visekanselier, prof. Wim de Villiers, en sy span en dat die bejammerenswaardige episode nie herhaal sal word nie. Sy herbeklemtoon die raad se verbintenis tot die reuse-taak om die US as ’n meertalige, navorsingsintensiewe universiteit van wêreldgehalte in Afrika te posisioneer wat in diens van die samelewing staan.
Dit volg ná die raad se sitting die afgelope Saterdag (1 Julie) oor die verslag van die Lewis-komitee, wat deur die raad aangestel is om bewerings van nepotisme teen De Villiers te ondersoek nadat familielede van sy vrou akademiese plasings gekry het, asook die mosie wat voor die raad gedien het om die rektor ingevolge artikel 42(3) van die US Statuut van sy amp te onthef.
Volgens Afdeling 42(3) van die US Statuut mag die raad die rektor van die amp onthef met ’n tweederdemeerderheidstem van al die raadslede op grond van ’n ernstige oortreding van die reg, ernstige wangedrag, ongeskiktheid of versuim om aan operasionele vereistes te voldoen.
Die Lewis-komitee het egter bevind dat daar geen ernstige wangedrag was deur die rektor (ingevolge artikel 42(3) van die US Statuut) wat tot die opheffing van sy amp kan lei nie. Hy het nie ’n reël of beleid van die universiteit oortree of oneerlik opgetree deur die rektor se diskresionêre plasings (RDP’s) nie en gevolglik is daar nie ’n onherstelbare vertrouensbreuk tussen die US en die rektor wat sy voortgesette indiensneming belemmer nie. Volgens die komitee se bevindings is die US se beleide oor onderskeidelik nepotisme en botsende belange nie van toepassing op RDP’s nie. Die RDP-riglyne bied ’n wye diskresie aan die rektor oor plasings.
Wat bewerings van oneerlikheid betref, sê die komitee: “Die rektor het sy verbintenis met die twee kandidate aan ’n senior kollega verklaar voordat plekke aan hulle toegeken is. Die advies aan hom was dat hy op grond van die diskresie wat aan hom verleen is, wel die plasings kon maak. Daar is geen bewys – ook nie wanneer die situasies teenoor mekaar opgeweeg word – dat die rektor oneerlik opgetree het met die bedoeling om misleidend te wees of ’n posisie verkeerdelik weer te gee nie.
“Die feit dat die rektor nie kon voorsien dat enige diskresionêre plasing van ’n familielid kon of sou lyk soos gunsbetoon nie, is bejammerenswaardig en dui op ’n gebrek aan etiese insig,” lui die verslag.
De Villiers het teenoor die raad die erns van die uitwerking van sy besluit om twee familielede van sy vrou deur diskresionêre plasings te plaas, erken en verskoning gevra vir die impak wat hierdie situasie op die vertroue gehad het wat kollegas in hom as ’n leier gestel het, die spanning wat dit vir die betrokke persone veroorsaak het, en die feit dat die kwessie die reputasie van die US skade berokken het.
Hy het aangedui dat ’n proses reeds begin het om die riglyne oor diskresionêre plasings te hersien en hom bereidwillig verklaar om onverpoos aan die herstelproses te werk.
“As ’n universiteitsgemeenskap verwelkom ons die geleentheid vir noukeurige ondersoek en besinning. Die raad het baie tyd spandeer en moeite gedoen om die bewerings deur ’n deeglike en onafhanklike proses te ondersoek, en het die uitkoms van die ondersoek deeglik bespreek.
“Die raad het die rektor se onvoorwaardelike verskoning oor sy oordeelsfout en die uitwerking daarvan op die instelling en al die betrokke partye aanvaar en waardeer. Die rektor én die universiteit het waardevolle lesse in die proses geleer,” het Newton-King bygevoeg.