Die legendariese fisikus en wiskunde-onderwyser Walter Parry (1913-1966) is die eerste historiese figuur in die geskiedenis van die Hoërskool Lückhoff in Idasvallei wie se merkwaardige lewensverhaal en nalatenskap opnuut in die geskiedenis van die skool, dorp en universiteit opgeteken is.
“En hy sal nie die laaste wees nie!” het Stanley Amos, voorsitter van die Lückhoff alumni-groep en openingspreker, Woensdag 22 Mei by die eerste Walter Parry-gedenklesing by die Universiteit Stellenbosch (US) beklemtoon. Die lesing is op die dag van Parry se geboorte 111 jaar gelede in Distrik Ses gehou.
“Vanaand is ’n reusestap vorentoe vir sosiale en herstellende geregtigheid deur die US vir ons gemeenskap en Suid-Afrika in die breë,” het Amos gesê.
Die geleentheid deur die groep, in samewerking met die US se Afdeling Sosiale Impak en die Departement Fisika, as deel van die Lückhoff Lewende Museum se visuele regstelling as restitusie-inisiatief aangebied. Dit is bygewoon deur leerders en onderwysers van Hoërskool Lückhoff, saam met ’n beduidende verteenwoordiging van die omliggende gemeenskappe wat histories van die US uitgesluit was.
Walter Hazel Parry (1913-1966) is as enigste seun in nederige omstandighede in Distrik Ses gebore. In 1934 het hy ’n MSc in Fisika (cum laude) aan die Universiteit Kaapstad verwerf en beplan om voort te gaan met ’n doktorsgraad in fisika ten einde sy droom te verwesenlik om ‘n kernfisikus te word. Omstandighede het hom egter genoop om ’n pos as laag besoldigde tegniese beampte te aanvaar en uiteindelik het hy ’n wiskunde-onderwyser geword.
Parry was onder kollegas en die gemeenskap nie net bekend vir sy wiskundige briljantheid nie, maar ook vir die feit dat hy ’n buitengewoon inspirerende onderwyser was.
Beide Stanley Amos en Parry se oudste dogter, Elizabeth Vergotine, het ook die gerugte bevestig dat prof. Piet Zeeman (1918-1985), hoof van US Departement Fisika in die 1950s, in die geheim met Parry saamgewerk het aan projekte vir eksperimente wat beplan is vir die Suidelike Universiteite se Instituut vir Kernkrag (vandag bekend as iThemba LABS).
Parry is in 1966 onverwags in die ouderdom van 53 jaar oorlede.
Die instelling van die Walter Parry-gedenklesing is deel van ’n groter poging om historiese weglatings en verdraaiings van die bydraes en ervarings van diegene met verbintenisse met die Vlakte, en veral die ou Lückhoff-skool, te help regstel.
Tydens die laat 1960s is die gemeenskap en personeel en leerders van Lückhoff gedwing om onder die Groepsgebiedewet, die gebied te verlaat en na aangewese gebiede te trek.
Die lesing is met ’n steunverklaring deur prof. Wim de Villiers, US- rektor en visekanselier, geopen. Hy het gesê die eerste Walter Parry-gedenklesing het historiese betekenis binne die US se verbintenis tot restitusie. “Parry, ’n briljante wiskunde-onderwyser en pilaar in die Stellenbosch-gemeenskap, het tydens apartheid geweldige struikelblokke in die gesig gestaar, en het gedroom om ’n wetenskaplike te word, maar die deure na ’n lewe in die akademie het vir hom toe gebly,” het hy gesê.
“In ons restitusieverklaring erken die US sy bydrae tot die ongeregtighede van die verlede. Hieroor het ons diepe berou. Ons vra onvoorwaardelik om verskoning aan die gemeenskappe en individue soos Parry wat uitgesluit was van die historiese voorregte wat die US geniet het. Sy nalatenskap inspireer ons vandag om die verlede te oorbrug met praktiese toepassings in die wetenskap. Deur hierdie lesing en in verantwoordelikheid teenoor huidige en toekomstige geslagte, eer ons sy bydraes en erken ons hul blywende relevansie.”
Chris Jooste, die skoolhoof van Hoërskool Lückhoff, het Parry as ’n ware kampvegter van die lewe en deernisvolle opvoeder beskryf. “Hierdie plek was vroeër amptelik ’n no-go sone vir ons. Nou is ons hier om sy lewe te vier en voel ons welkom.”
’n Belangrike deel van die lesing is deur Brian Pool, ’n alumnus en latere skoolhoof van Hoërskool Lückhoff én vir ses jaar ’n kollega van Parry, aangebied. “Ek was in sy klas vanaf gr.10. Hy het sonder handboeke klas gegee en kon letterlik enige van ons vrae beantwoord,” het Pool onthou.
Hy het ook vertel hoe hulle verby die plaaslike US moes pendel om aan die Universiteit Kaapstad (UK) te studeer. Hulle moes die 06:00-trein na Kaapstad neem en dan middae deur Distrik Ses jaag om betyds te wees vir die 17:03-trein terug Stellenbosch toe.
Prof. Shaun Wyngaardt, nog ’n Lückhoff-alumnus wat vandag ’n kernfisikus en hoof van die US se Departement Fisika is, het die hoofrede gelewer. Hy het besin oor die fisika van destyds wat Parry moes geïnspireer het, soos Rutherford se ontdekking van die atoomkern in 1911 en die debatte oor kwantumfisika, wat die kern van klassieke fisika uitgedaag het.
Hy het ook gesê dat Parry aan die UK onder Sir Basil Schonland moes studeer het – een van Suid-Afrika se voorste kernfisici wat self onder Rutherford studeer het.
“Die passie vir fisika is aansteeklik. Soos water wat deur die landskap beweeg en dit geleidelik verander, voel ons op dieselfde manier steeds die rimpelings van tyd en ruimte in die vele toepassings van kern- en kwantumfisika vandag – van die behandeling van kanker tot die verkenning van die kosmos,” het hy verduidelik.
Reneé Hector-Kannemeyer, adjunkdirekteur in die afdeling Sosiale Impak, het die belangrikheid van die herskryf van geskiedenis beklemtoon. “Ons skryf die storie van Walter Parry terug in die geskiedenis. Die Walter Parry-gedenklesing is ’n voorbeeld van epistemiese geregtigheid. Hierdie kennis help om historiese weglatings en verdraaiings reg te stel. Dit bring die bydraes en ervarings van mense wat onregverdig uitgewis of geïgnoreer is aan die lig, soos die briljantheid van Parry.”
Parry se verhaal sal deel vorm van die Lückhoff Living Museum-inisiatief wat in die ou Lückhoff-skool in Banhoekweg gevestig sal word. Die inisiatief is saam met wyle Otto van Noie, voormalige Lückhoff-leerder, onderwyser en gemeenskapsaktivis, saamgestel.
In 1969 is personeel en leerders gedwing om fisiek na ’n nuwe skool in Idasvallei te verhuis. Sommige leerders het self hul banke gedra met die trek. Prof. Russel Botman het in 2007 as die US-rektor simbolies erkenning gegee aan die skoolgemeenskap van 1969.
In 2019, het die US ’n spesiale seremonie gehou waartydens twee van die oorspronklike skoolbanke aan die skool terugbesorg is, as deel van ’n daad van herstellende geregtigheid.
In sy slotopmerkings het dr. Leslie van Rooi, direkteur van die US se afdeling Sosiale Impak, gesê Parry sal in die komende jare steeds inspireer: “Ons moet seker maak dat ons almal baie harder werk om dit vir die volgende generasie kinders moontlik te maak om hier te kom studeer,” het hy gesê.
Die lesing is bygewoon deur Parry se oudste dogter, Elizabeth Vergotine, wat haar sewe sibbe, (waarvan vier reeds oorlede is) verteenwoordig het. Vergotine wat reeds diep in haar tagtigs is, het gesê die gebeurtenis was emosioneel oorweldigend: “ ’n Groot dankie weer eens vir almal wat hierdie projek op die been gebring het. Dit was ’n groot sukses.”