Die Universiteit Stellenbosch het die studente-organisasie Studenteplein verlede Donderdag (31 Maart) op Twitter in twee twiets gekap en van “onakkurate bewerings” beskuldig.
Dít volg nadat Studenteplein, ’n organisasie wat hom vir die bevordering en ondersteuning van Afrikaans op kampus beywer, en ook die Demokratiese Alliansie (DA) einde verlede jaar ’n hofaansoek ingedien het teen die US oor “onregmatige verwaarlosing van Afrikaans”.
Die hofaansoek volg nadat die US se senaat op 19 Maart 2021 glo sonder stemming besluit het om fakulteite die toestemming te gee om van hul taal-implementeringsplanne af te wyk.
Volgens die US was dit ’n versoek van fakulteite om druk as gevolg van die Covid-19-pandemie op dosente te verlig.
Studenteplein het egter hierdie reaksie van die US bevraagteken en deur middel van ’n aansoek ingevolge die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) bevind US-fakulteite het nooit gevra vir die afskaffing van taal-implementeringsplanne nie.
Studenteplein het glo in ’n ondersoek bevind dat die US sy eie taalbeleid verontagsaam het deur “vir vier agtereenvolgende semesters sy taalbeleid [te] ignoreer deur alle fakulteite op senaatsvlak te magtig om nie nuwe leermateriaal in Afrikaans te bied nie”.
Die studente-organisasie voer aan dat hulle talle kere probeer het om met die US in gesprek te tree, maar dat dit “nie help nie” en dít hulle genoop het om die hof te nader.
Hulle hoop die hof sal die senaat se besluit “ongrondwetlik” verklaar en dat die US “gelas” moet word om sy taalbeleid beter toe te pas.
Luidens ’n mediaverklaring van Studenteplein verlede Donderdag op sy Twitter-blad is die US se antwoord op hul hofsaak “dat Afrikaans en Afrikaanse studente nie ’n prioriteit was oor die afgelope twee jaar nie”.
Die US het in reaksie hierop teruggetwiet en gesê: “Studenteplein se stellings oor (die) US se antwoord is onwaar. Die US se beëdigde verklarings in antwoord op Studenteplein se hofaansoek toon nie aan dat Afrikaans en Afrikaanse studente nie ’n prioriteit oor die afgelope twee jaar was nie of dat Afrikaans ’n onbelangrike oorweging is nie. Aangesien die saak hangend is, beoog die US nie om verder kommentaar te lewer op Studenteplein se onakkurate bewerings nie,” lui die tweede boodskap van die US.
Martin Viljoen, woordvoerder van die US, het aan Eikestadnuus gesê die US wil nie in hierdie stadium kommentaar lewer nie aangesien die saak nog hangend is, maar dat “Studenteplein se weergawe van die inhoud van die universiteit se antwoordende eedsverklarings foutief is”.
Viljoen het die US se standpunt oor Afrikaans herbevestig en gesê “die US bly verbind tot Afrikaans as onderrig- en kommunikasiemedium in ’n inklusiewe, veeltalige konteks – een van die min instellings vir hoër onderwys in Suid-Afrika wat hierdie benadering volg”.
Albertus Liebenberg, ’n direkteur van Studenteplein, sê hul bewerings is nie onakkuraat nie. “Ons glo nie dit is ’n ongegronde standpunt of ‘onwaar’ nie en het verskeie redes vir hierdie standpunt. Die voorskrifte van die taalbeleid wanneer dit by afwykings van fakulteite se taal-implementeringsplanne kom, is nie in 2020 en 2021 gevolg nie.”
Die saak word op 15 Augustus in die Wes-Kaapse hooggeregshof in Kaapstad aangehoor.