Aardedag word op 22?April 2023 gevier en die Universiteit Stellenbosch (US) begin reeds vroeg met ’n omgewingsvolhoubaarheid-ekspo by die Jan Mouton-leersentrum.


Aardedag word op 22 April 2023 gevier en die Universiteit Stellenbosch (US) begin reeds vroeg met ’n omgewingsvolhoubaarheid-ekspo by die Jan Mouton-leersentrum.

Die ekspo, wat op 13 en 14 April 2023 gehou word, het ten doel om die kampusgesprekke oor omgewingsvolhoubaarheid te verbreed, om die US se omgewingsvolhoubaarheidsplan te bevorder, betrokkenheidsgeleenthede oor die “Net Zero Carbon”-veldtog te skep en die weg te baan vir ’n jaarlikse kampusgeleentheid as deel van wêreldwye Aardedag-vieringe.

As deel van die geleentheid sal prof. Guy Midgley, die interim-direkteur van die US se skool vir klimaatstudies en ’n wêreldbekende navorser oor klimaatsverandering, ’n aanbieding getiteld How to Avoid Climate Disaster: An African View, doen. Dit sluit aan by Aardedag se oproep tot aksie: “Belê in ons planeet”.

As deel van die gesprek sal hy ’n paneelbord demonstreer wat jy kan gebruik om te sien hoe verskillende ingrypings klimaataksie met verskillende scenario’s kan beïnvloed.

Die uitstallers sluit in omgewings binne die US wat betrokke is by klimaatsveranderingsgesprekke, soos die US fasiliteitsbestuur, die SDG/2063-impak-naaf gemoeid met die volhoubaarheidsontwikkelings-agendas van beide die VN en die AU (DVOs/SDG’s) by die US, die skool vir klimaatstudie, die EcoMaties-studentevereniging, die sentrum vir hernubare en volhoubare energiestudies (CRSES) en maatskappye wat die US help om by ’n netto-nul-kampus uit te kom, soos Alveo, CRSES, Wasteplan, GBCSA, en ander.. Ekspo-datums: Donderdag en Vrydag, 13-14 April, 11:00 – 14:00. Plek: Jan Mouton-leersentrum, 2de- en 3de-vloer-voorportale.. Bevestifg asb vir prof. Guy Midgley se aanbieding (13 April 12:30 tot 13:30) hier – aanlyn of in persoon. . Skakel met Petro Mostert by petromostert@sun.ac.za of 082 334 6193 vir nog inligting

You need to be Logged In to leave a comment.