Die man wat byna twee weke gelede (16 April) ten aanskoue van talle studente en ander omstanders doodluiters sy gulp afgetrek en binne die Neelsie-studentesentrum in Stellenbosch water afgeslaan het, is ’n moordverdagte van Kylemore.
’n Video van die voorval is op sosiale media versprei, wat groot konsternasie veroorsaak het – veral omdat dit die vierde onlangse urineervoorval op die Matie-kampus is.
By nadere ondersoek is vasgestel die jong man op die foto is die 26-jarige Enrico van Graan.
Hy word daarvan verdink dat hy ’n geliefde nutsman van Kylemore, die 77-jarige Moos (Kabouter) Parsley, in November 2020 met ’n mes aangeval en verskeie keer in die kop gesteek het.
Parsley het daardie dag in die Van Graan-gesin se tuin gewerk.
Die moordsaak teen hom is voorlopig teruggetrek omdat Enrico se pa, die staat se hoofgetuie, in ’n motorongeluk dood is. Eric Ntabazalila, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, het gesê die dossier is na die polisie teruggestuur vir nadere ondersoek.
In die video van 23 sekondes staan die man, wat in swart geklee is, hande in die sy en urineer. Oorkant hom is ’n man op sy selfoon besig, met ’n beker koffie voor hom.
Die man met die selfoon kyk op ’n tydstip op en sien die man al wiegend urineer. Hy staan half geamuseerd op, tel sy beker koffie op en beweeg weg.
’n Woordvoerder van die Universiteit Stellenbosch, Martin Viljoen, het by navraag gesê die man in die video is nie ’n student nie.
Viljoen sê die universiteit het besluit om nie ’n klagte aan te meld nie, aangesien daar geen saakbeskadiging of slagoffers was nie.
Die media het in November 2020 oor die moord op Parsley berig. Luidens die berig het Van Graan se pa, Eugene, voor die moord ’n WhatsApp-boodskap aan familielede gestuur dat sy seun depressief was en dat die gesin kort tevore deur ’n urinetoets uitgevind het dat hy Outdoor (’n plaaslike naam vir ’n baie sterk soort dagga) begin rook het.
Van Graan het destyds in die hof verskyn en is op borgtog van R1 500 met streng voorwaardes vrygelaat. Een daarvan was dat hy nie op Kylemore mag kom nie.
Albei sy ouers, sy suster en haar kêrel is in Oktober verlede jaar in ’n motorongeluk naby Stellenbosch dood.
Sy ouers – sy pa, Eugene (54), die skoolhoof van Raithby Primêr, sy ma, Elma (52), sy suster Euodia (23) en haar kêrel, Ronwan Adams (23) van die Paarl, is in ’n motorongeluk op die R44 naby Stellenbosch dood.
* Bron: Rapport