Ná die dood van ‘n Matie weens brein-vliesontsteking is sommige Stellenbos- sers van plan om die meningokokke-entstof te neem.
Dit nadat die Universiteit Stellenbosch (US) bevestig het Chris Scheffer (19) is dood weens breinvliesontsteking. Scheffer is Saterdag (2 Augustus) dood in sy kamer in die Dagbreek-koshuis gevind nadat klasmaats hom glo verlede Donderdag laas gesien het.
Die Stellenbosch-polisie het bevestig geen misdaad word vermoed nie en hoe-wel die lykskouing voltooi is, kon die oorsaak van dood nog nie bevestig word nie. Die US het egter Dinsdag (4 Augustus) laat weet die universiteit werk nou saam met die Wes-Kaapse departement van gesondheid om te verseker almal wat die 10 dae voor sy dood met Scheffer in kontak gekom het, opgespoor word sodat voorkomende medikasie aan hulle gebied kan word om die moontlikheid van breinvliesontsteking te verminder.
Scheffer was ‘n tweedejaar-teologie- student wat deur sy familie en vriende as ‘n sonskyn-mens beskryf word.
Grant Leukes, koshuishoof van Dagbreek, beskryf Scheffer as ‘n energieke jongman wat die afgelope twee jaar ‘n groot rol in Dagbreek se sêr-groep gespeel het. “Hy was betrokke by koshuise en was lief vir die gemeenskap waarin hy gebly het. Ons sal hom almal baie mis en ons betuig ons innige meegevoel aan sy familie,” sê Leukes.
Medelye vir die jong man het ingestroom met vele wat sy passie vir sy geloof en musiek uitgelig het. Oor Scheffer, oorspronklik van Riebeek-Wes in die Swartland, skryf ds. Quentin Minnaar, leraar van VGK Malmesbury: “Hy het geleef as een wat gesoek het. Hy sterf as een wat gevind is. Hy het diep gesmag soos hy gesing het: ‘Eintlik smag ek na waters van rus. Lei my, Heer, vandag daarheen’. Hy is nie weg nie. Hy is tuis. Tuis by die Soeker wat hy sy lewe lank gesoek het.”
Intussen het die US gesê geen ander gevalle van breinvliesontsteking is aangemeld nie, maar die situasie sal gemonitor word.
Volgens Sandra Maritz, woordvoerder vir die departement, dra altesaam 5% van die bevolking die bakterieë sonder om noodwendig siek te word.
“In sommige gevalle ontwikkel die individu meningokokkale septisemie wat ernstige siekte in ‘n relatief kort tydjie kan veroorsaak. Simptome sluit in ‘n hoë koors, pynlike gewrigte en ‘n algemene ongesteldheid. Simptome by babas kan insluit ‘n hoë koors en ‘n onwilligheid om te voed,” verduidelik sy.
• Inwoners en studente wat mediese hulp nodig het, kan kampusgesondheidsdienste by 021 808 3493 / 6 (kantoorure) in kontak; ER24 by 010 205 3032 (na-ure), Stellenbosch-hospitaal by 021 808 6100 of Mediclinic Stellenbosch by 021 861 2094 (noodgevalle).


