Die Universiteit Stellenbosch sê hy neem kennis van die bewerings oor taalgebruik op sy kampusse en tree direk met die toepaslike partye in verbinding.
Dit volg nadat die Demokratiese Alliansie sy ontsteltenis uitgespreek het oor verskeie koshuise aan die US weer glo ’n wydverspreide verbod op selfs die informele gebruik van Afrikaans tydens die universiteit se verwelkomingstydperk ingestel het.
“Die inligting in die DA se besit dui daarop dat hierdie jongste verbod op Afrikaans selfs meer sistematies is as die een wat koshuise gedurende 2021 geïmplementeer het, toe studente verbied is om Afrikaans in hul kamers, op kampus en selfs op parkbanke te praat,” het dr. Leon Schreiber, DA verkiesingshoof in Stellenbosch, gesê.
“In wat blykbaar ’n standaard bedryfsprosedure oor die kampus heen geword het, word groepe studente wat in Afrikaans praat – selfs wanneer almal in die groep Afrikaans praat – nou opdrag gegee om na Engels oor te skakel,” het Schreiber bygevoeg.
Martin Viljoen, US kommunikasiebestuurder, sê egter die universiteit het met sy 2021-taalbeleid homself opnuut verbind tot meertaligheid as ’n manier om inklusiwiteit te bevorder.
“Dit geld ook die US se studentegemeenskappe waar taal so gebruik word dat waar dit redelikerwys doenlik is, almal ingesluit word en kan deelneem aan besprekings.
“Sedert die meer as 5 000 nuwelinge vroeër vandeesmaand op kampus verwelkom is, heers daar ’n oorweldigend positiewe gees onder studente. Dit is egter vanselfsprekend dat wanneer ’n groot groep jongmense vir die eerste keer saamkom en deel word van ’n nuwe entiteit, ’n gemeenskaplike grondslag om mekaar onderling te verstaan noodsaaklik is,” voeg Viljoen by.
“Die US moet ook daarop wys dat Isa Carstens ’n private geakkrediteerde koshuis is en nie deur die US bestuur word nie.”
Viljoen sê die studentesamestelling in koshuise en pendelstudentegemeenskappe verander elke jaar.
“Begeleiding, opleiding oor meertaligheid, leiding oor hoe om meertaligheid binne gemeenskappe toe te pas en sensitisering van studente – en veral studenteleiers – is dus ’n deurlopende proses. In die oorgrote meerderheid van gevalle word misverstande weens taalverskille deur openhartige gesprekke tussen studente in ’n goeie gees opgelos.
“Studente word aangemoedig om bekommernisse met huiskomiteelede en/of koshuishoofde en pendelstudentekoördineerders op te neem indien hulle voel dat hulle kommer oor taalgebruik in hierdie omgewings nie behoorlik opgelos is nie. Wanneer ’n situasie nie spontaan ontlont kan word nie, beskik die universiteit oor verskeie hulpbronne en kanale om seker te maak dat klagtes aangehoor word. Indien daar sprake is van interpersoonlike konflik, intimidasie of afknouery, word dit so gou moontlik op ’n regverdige, onpartydige en professionele manier beredder.”
Hy voeg by die meertaligheid wat die US nastreef word allermins sosiaal afgedwing en gebeur in die meeste gevalle op ’n organiese manier soos studente mekaar beter leer ken en hul taalrepertoire uitbrei.
“Die US se taalbeleid is dan ook toegespits op die bevordering van inklusiwiteit en ’n waardering vir wedersydse kultuurgoedere. Dit skep geleentheid vir studente van uiteenlopende agtergronde om na mekaar uit te reik en bande te smee oor kultuur- en taalgrense.
“Die vertrekpunt is dat jy in alle ruimtes jou moedertaal mag praat. Dit staan sentraal in die strewe na inklusiewe gemeenskapsvorming. Indien jy egter in jou moedertaal of taal van jou keuse praat en ander deelnemers aan ’n gesprek ook ingesluit wil word terwyl hulle nie die taal wat jy op die spesifieke oomblik gebruik, verstaan nie, mag jy versoek word om die boodskap aan daardie deelnemers oor te dra, hetsy deur vertaling, parafrasering of ’n gemeenskaplike taal.
“Die oordra van inligting aan almal is soveel te meer relevant aan die begin van die jaar met duisende nuwe studente op kampus. Die US beskou nie versoeke van studente of studenteleiers om by ’n gesprek ingesluit te word as ’n verbod of ’n opdrag wat betref ’n sekere taal nie. Kommunikasie as deel van gemeenskapsvorming gaan oor meer as die gebruik van taal – dit gaan ook oor die manier hoe ander ingesluit word.”
?