Die Universiteit Stellenbosch (US) is besig om pogings om ’n einde aan studieskuld te maak, te verskerp.

Die Regstrust se leerstoel vir Sosiale Geregtigheid, die Studenteraad (SR) en die Afdeling Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge (OAB), in vennootskap met Besoek Stellenbosch (Visit Stellenbosch), nooi belang-hebbendes uit na die staptog op die #Action4Inclusion-roete vir sosiale geregtigheid, wat volgende Donderdag (16 Junie) plaasvind.

Die staptog is deel van deurlopende geldwerwingspogings om studieskuld uit te wis en die potensiaal van studente te ontsluit sodat hulle betekenisvol tot die ontwikkeling van die land kan bydra.

#Action4Inclusion is een van die talle inisiatiewe onder die vaandel van die jaarfonds van die US, “Oorbrug die gaping”, wat die gemeenskap, personeel, alumni, ouers en vriende in staat stel om studente te ondersteun en die gaping tussen talent en finansiële behoefte te oorbrug.

“Hoewel dit ’n geldwerwings-geleentheid vir die #Action4Inclusion-veldtog is, is dit ook ’n geleentheid om sosiale geregtigheid teen die agtergrond van ons land se gekwelde verlede aan te gryp. Die geleentheid wil ook vorige ongeregtighede erken en is daarop gemik om hernude hoop, inspirasie en medewerking tussen diverse belanghebbers te bevorder,” het die organiseerders verduidelik.

Die #Action4Inclusion-roete vir sosiale geregtigheid sal deur kollegas, alumni, vriende en sakeleiers bygewoon word en mense soos prof. Wim de Villiers (US-rektor en visekanselier), Geordin Hill-Lewis (uitvoerende burgemeester van Kaapstad) en Geraldine Mettler (munisipale bestuurder van die Stellenbosch-munisipaliteit) sal ook teenwoordig wees.

Die organiseerders voeg by dat dié staptog ’n unieke geleentheid bied om belangstelling in die Dwarsriviervallei, ’n onontwikkelde gebied met ryk, lewende geskiedenis, kulturele bekoring en asemrowende natuurskoon in die Stellenbosch-omgewing, aan te wakker.

Die roete van 16 km is ’n toeriste-aantreklikheid met die naam “Reis van hoop en genesing” en is daarop gemik om ’n omgewing te skep waarin al die gemeenskappe van Stellenbosch die ontsaglike voordele van die dorp se toerismepotensiaal kan geniet.

“Die roete neem ’n mens van Stellenbosch, oor die ou Helshoogtepas tot by Pniël, en die dag sal afgesluit word met boodskap deur prof. Thuli Madonsela, Law Trust Chair of Social Justice.

’n Gedeelte van die opbrengs sal vir verversings op die staptog aangewend word, hoewel die grootste gedeelte aan #Action4Inclusion geskenk sal word. . RSVP deur jou kaartjie hier te koop: https://plankton.mobi/Events/EventBooking/e129f884-10d8-ec11-80e0-0cc47a93d288 . Skakel met S’thabile Duma by 065 279 5506 of Thembalethu Seyisi by 072 785 3218 vir nog inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.