Dr. Marietjie Lutz, ’n dosent in chemie aan die Universiteit Stellenbosch, pak ’n ambisieuse projek aan om geld in te samel vir voorgraadse BSc-studente wat finansiële uitdagings in die gesig staar.
Sy gaan gedurende die Paasnaweek die pad tussen George en Stellenbosch per fiets aandurf en ongeveer 600 km in slegs ses dae aflê.
Lutz sê die inspirasie om hierdie projek aan te pak, het gekom nadat sy in 2022 maniere probeer vind het om ’n skrander eerstejaar-BSc-student in haar klas te help – die student was op die randjie van haweloosheid en honger. Ten spyte van geweldige finansiële stres het dié vasberade student akademies uitgeblink en was sy ’n toonbeeld van veerkragtigheid en deursettingsvermoë.
Lutz het toe besef sy kan haar passie vir fietsry inspan – sy het immers, onder meer, die Absa Cape Epic in 2016 en 2017 voltooi. Só kan sy studente bemagtig wat toegewy is aan hul studies, maar nie die finansiële hulpbronne het om die studiereis te voltooi nie.
Met die ondersteuning van haar man en vier kinders sal sy (hoofsaaklik op grondpaaie) van George af ry – deur Oudtshoorn, Calitzdorp, Riversdal, Swellendam en Greyton tot terug in Stellenbosch.
Hierdie unieke geldinsamelingsprojek sal oor die Paasnaweek – van Vrydag 29 Maart tot Woensdag 3 April – plaasvind.
Sy nooi diegene wat haar visie deel om geleenthede vir belowende studente te bied, om tot hierdie verdienstelike saak by te dra.
- Om die “Wheels of Opportunity”-inisiatief te ondersteun, kan belangstellendes deur die GivenGain-platform bydra. Elke bydrae, hoe klein ook al, sal ’n betekenisvolle impak maak op die lewe van studente wat streef na uitnemendheid, kom wat wil.