US gradeplegtigheid: 3 055 studente vang graad in Stellenbosch

Die Universiteit Stellenbosch (US) ken vanjaar 3 055 kwalifikasies by sy Maart-gradeweek toe, wat van Maandag 27 Maart tot Vrydag 31 Maart sal duur.


Die Universiteit Stellenbosch (US) ken vanjaar 3 055 kwalifikasies by sy Maart-gradeweek toe, wat van Maandag 27 Maart tot Vrydag 31 Maart sal duur.

Die Maart-gradeplegtighede bring die universiteit se 2022-gradesiklus tot ’n einde. Altesaam 5 587 kwalifikasies is by die gradeweek in Desember 2022 toegeken en 3 055 word vandeesmaand toegeken om die algehele aantal kwalifikasies wat die universiteit vir die 2022-studiejaar toegeken het, op 8 642 te staan te bring.

Universiteit Stellenbosch

Die Universiteit Stellenbosch (US) ken vanjaar 3?055 kwalifikasies by sy Maart-gradeweek toe, wat van Maandag 27?Maart tot Vrydag?31 Maart sal duur.

Eredoktorsgrade

Die US ken by sy Maart-gradeweek ’n eredoktorsgraad aan dr. Uma Lele toe. Die universiteit se eredoktorsgrade is ’n manier om erkenning te gee aan die merkwaardige werk van individue wat as rolmodelle en ’n inspirasie vir gegradueerdes van die US dien.

Lele word met die graad doktor in die natuurwetenskappe in landbou, honoris causa, vir haar leierskap in die teorie en praktyk van landelike ontwikkeling wêreldwyd, vereer. Sy het in ’n loopbaan van byna vyf dekades ’n magdom ondervinding in navorsing, bedryfsaktiwiteite, beleidsontleding en evaluasie by die Wêreldbank, universiteite en internasionale organisasies opgedoen.

Gelukwensing

Die rektor en visekanselier van die US, prof. Wim de Villiers, het die Maart-graduandi by voorbaat gelukgewens.

Volgens De Villiers is die hoofdoel om by ’n universiteit in te skryf eerstens om te gradueer, en dit is presies wat die Maart-graduandi bereik het. “Dit moet gevier word, dus ek wil vir julle en almal wat julle langs die pad ondersteun het, sê ‘knap gedaan’.

“Tweedens gaan jou kwalifikasie van die Universiteit Stellenbosch vir jou deure open, ongeag waar jy jou ook al in die wêreld bevind. Ons internasionale reputasie is ondanks verlede jaar se uitdagings ongeskonde. Ons het sterk netwerke en doelgerigte vennootskappe gevorm, en die internasionale gemeenskap wag gretig om te sien watter invloed ons gegradueerdes sal hê,” het hy gesê.

De Villiers het graduandi aangemoedig om voort te gaan om ingevolge die US se waardes – uitnemendheid, deernis, billikheid, respek en verantwoordbaarheid – te leef. Hy het hulle aangemoedig om deur die US se alumni-netwerk met die universiteit in aanraking te bly.

“Die US sal altyd jou akademiese tuiste wees. ’n Sterk alumni-netwerk strek nie net ons universiteit tot voordeel nie, maar verbeter ook jou professionele ontwikkeling op die pad vorentoe.”

Die Maart-gradeweek word vanjaar by die Coetzenburg-atletiekstadion gehou en nie by die Coetzenburg-sentrum nie, aangesien noodsaaklike opknappingswerk tans by die sentrum gedoen word.

Die plegtighede sal per regstreekse stroomuitsending gevolg kan word by www.sun.ac.za/streaming.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.