Groot opgewondenheid en ’n feestelike atmosfeer het geheers toe die ingenieursfakulteit van die Universiteit Stellenbosch (US) sy opgeknapte meganiese- en megatroniese- ingenieurswese- en bedryfsingenieurswese-geboue verlede Woensdag (6 Desember) amptelik geopen het.
Die nuwe moderne fasiliteite is deel van ’n groter projek om die hele fakulteit volledig te moderniseer.
By die bekendstelling van die geboue het die US se bedryfshoof, prof. Stan du Plessis, gesê die groter opknapprojek sal meer as R1-miljard kos – “wat dit die duurste projek in hierdie universiteit se geskiedenis maak, alhoewel dit oor ’n aantal groot geboue en ’n verlengde tydperk versprei is”.
Die opknapping van die geboue is deel van die ingenieurskampusvernuwingsprojek wat vanaf 2016 tot 2026 strek.
Werk aan die bedryfsingenieurswese-gebou is in Julie 2019 voltooi, gevolg deur die meganiese en megatroniese ingenieurswese-gebou in November 2020.
Die amptelike opening het eers verlede week plaasgevind, met die seremoniële lint-knip wat deur prof. Wim de Villiers, US-rektor en -visekanselier, behartig is.
Die nuwe fasiliteite sluit in sitplek vir meer as 150 nagraadse studente in meganiese en megatroniese ingenieurswese en 180 in bedryfsingenieurswese; volledig toegeruste vergaderkamers op elke vloer, ’n klein kombuisie of wegbreek-ruimte op elke vloer; ’n groot vergaderplek en konferensie-ruimte wat die volle departementele personeelafdeling van meer as 60 mense in meganiese en megatroniese ingenieurswese kan huisves; ’n moderne raadsaal in bedryfsingenieurswese; ’n toegewyde gesinskamer in meganiese en megatroniese ingenieurswese; en ’n toegewyde megatronika-laboratorium en interaktiewe lesinglokaal, met ’n volledig toegeruste gereedskapskamer en klein werkruimte op die derde vloer in meganiese en megatroniese ingenieurswese.
“Ek is dankbaar dat ons projekspan en die fakulteit ingenieurswese die deeglike benadering en beplanning met hierdie geboue volgehou het. Dit is die regte benadering en dit is wat ons vir die res van die geboue op die ingenieurskampus sal gebruik,” het Du Plessis gesê.
“Ek het ook gehoor dat hierdie opgeknapte fasiliteite ’n baie, baie positiewe indruk op die ingenieursraad van Suid-Afrika se afvaardiging gemaak het toe hulle in Augustus vanjaar besoek afgelê het. Hulle is reg deur te sê dat dit hoop vir die fakulteit se toekoms inspireer, met die universiteit wat bereid is om so aansienlik in hierdie fasiliteite te belê.”
Hy het verder die US-raad, fakulteitsleierskap, US-fasiliteitsbestuur, onder leiding van hoofdirekteur Nicolette van den Eijkel, en diegene wat by die kampushernuwingsprojek betrokke is, bedank.
“As ’n universiteit is ons baie trots op ons ingenieursfakulteit, die gehalte van jul akademiese programme, jul gegradueerdes en die hoë-impak-navorsing wat met toenemende intensiteit hier gedoen word. Ek is oortuig dat julle in die nuwe fasiliteite sal floreer,” het Du Plessis gesê.
As deel van die amptelike opening van die opgeknapte geboue het die ingenieursfakulteit ’n skenking aan die e’Bosch Erfenisprojek gegee, met die raadsvoorsitter, dr. Sias Mostert, wat die skenking van prof. Wikus van Niekerk, dekaan van die ingenieursfakulteit, ontvang het.
“Die e’Bosch-projek beoog om Stellenbosch in ’n dorp te verander waar inwoners sowel as besoekers welkom, tuis en veilig voel. Die droom is dat elke Stellenbosch-inwoner die vryheid van die dorp geniet en soos ’n ereburger voel, met die ruimte en geleenthede om te floreer,” het Van Niekerk gesê.
“In stede daarvan om vandag ’n geskenk vir elke gas te gee, wil die departemente van meganiese en megatroniese ingenieurswese en bedryfsingenieurswese eerder ’n skenking aan die e’Bosch Erfenisprojek gee.
“Aangesien die meeste van ons personeel van die Stellenbosch-gemeenskap is en ons fakulteit ’n beduidende teenwoordigheid in Stellenbosch en sy geskiedenis het, voel ons dat so ’n skenking gepas sal wees.
“Ons wil graag die bedrag van R20 000 aan die projek skenk, om hulle in staat te stel om hulle goeie voornemens voort te sit om Stellenbossers, insluitende ons studente en personeel, soos ereburgers te laat voel.”